Die Romeinse Boer/Romeinse Landbou in die latere Republiek
← Cato | Die Romeinse Boer III. Romeinse Landbou in die latere Republiek deur T.J. Haarhoff |
Varro → |
III. Romeinse Landbou in die latere
Republiek
§1.
editMet die groei van die Romeinse grondgebied en die uitbreiding, in Italië en oor die see, van Romeinse belange, het daar noodwendige veranderinge in die uitsig en metodes van die boer gekom. Die oorloë met Carthago het hom in aanraking gebring met die Puniese landbou, waarvan die hoof-idee goedkope produksie op 'n groot skaal was. Die ou boer-soldaat, wat destyds rustig voortgewerk het met die hulp van 'n paar huisslawe, word nou verdring deur die haastige kapitalis met sy slawe-inrigtinge (ergastula). Waar die ou takhaar-boer (capillatus) as 'n patriarg oor sy famielie geregeer het, streng, maar 'n volgeling van 'n eervolle tradiesie, kom nou die weelderige grondbesitter, kaalgeskeer volgens die nuwerwetse Griekse mode, met min belang in nasionale oorlewering en sonder baie sedelike gevoel. Geldmaak is iets waarna die oë van die ou Romein nou begin blink: die moontlikheid van skielik ryk te word begin nou verloklik speel op sy ingebore inhaligheid.
Dit is mode om die nuwe fase in die Romeinse karakter onvoorwaardelik te veroordeel. Maar met die uitbreiding van belange moes daar 'n verandering kom. 'n Volk kan nie in die herderlike stadium bly en tegelykertyd hom met industrie en nywerheid bemoei nie. Dit was te verwagte dat die Romein sy ewewig sou verloor. (Het dit nie so gegaan in ons eie land nie?) Die (34) kwessie was net of hy sy ewewig sou herwin en hoe gou. Hy het dit genoegsaam herwin om 'n wêreldryk vir nog 'n sewehonderd jaar te bestuur, en om aan Europa die tradiesie te oorhandig wat die grondslag van ons kultuur vorm.
Ons vind nou dat die posiesie van die boer-soldaat moeilik word. Hy kon opgeroep word tot op sy ses-en-veertigste verjaardag (en selfs daarna in besondere gevalle) en die gevolge vir sy plaas was dikwels noodlottig. As hy mismoedig van die veldtog af terugkom, verkoop hy somar sy erfenis aan die eerste kapitalis; of soms verbeur hy sy plaas vir agterstallige rente. So kom daar geleidelik spesialisasie: die soldaat word meer en meer 'n professionele soldaat, die werk van die plaas word meer en meer aan die slawehordes oorgelaat.
En nou verskyn daar 'n figuur wat ons reeds tevore af en toe ontmoet het, en wat ons in die latere letterkunde baie dikwels aantref: die vilicus of voorman wat die besigheid van die eienaar bestuur - dikwels in sy afwesigheid. Net soos vandag, kla die Romeinse eienaars dat hul moeilik 'n goeie opsiener kan kry. Is die man begaaf en vol idees, dan is een van sy idees stellig om die eienaar te kort te doen; is hy eerlik, dan is hy weer te dom om vooruit te boer. So is die strewe van die kneg steeds om die baas so min as moontlik te laat verwag, van die heer om uit te vind of die kneg al die winste op die boeke laat verskyn. En meestal het die kneg gewen!
Met die verskyning van die kapitalis-landeienaar, het die aard van die landbou geleidelik verander. Soos reeds aangedui, het die ou graanboer mettertyd plek gemaak vir die opkoper van plase, wat sy koring op die mark gekoop het en sy uitgestrekte lande (latifundia) vir weiveld (saltus) gebruik het. Dit was pragtig vir hom as hy in sy weelderige villa kon lê, en lui-lui die golwende heuwels aanskou, waarop sy kuddes wei. (35)
Maar vir Italië was dit noodlottig. Met waarheid het die bittere opmerking later weerklink: "Latifundia perdidēre Italiam" - die latifundia was die ondergang van Italië - want die land het onbewerk gelê en koring kon nie altyd ingevoer word nie, en die kleinboer dryf stadwaarts.
Dit is algemeen bekend dat 'n slawe-sisteem vir 'n land nie alleen moreel nie, maar ook ekonomies verkeerd is. Hoeseer die indiwiduele eienaar daarby profyt mag vind, vir die land as 'n geheel is dit onvrugbaar. Die land word armer, terwyl 'n bevoorregte klas skatte versamel. Selfs die Romeinse slaafbase het uiteindelik nie soveel gewen, as wat hul verwag het nie. Want die slaaf, sonder hoop om sy lot te verbeter, doen net genoeg werk om straf te vermy; en daar hy g'n belang in die profyt het nie, doen hy dit sonder sorg 1). En ofskoon hy nie betaling kry, nadat hy een maal gekoop is nie, tog, aan die anderkant, kan die baas hom nie laat loop as daar min werk is nie, maar moet altyd vir sy onderhoud betaal. En dan was daar altyd die gevaar van slawe-opstande, soos daar baie was in die later tye van die Republiek: van 73 tot 71 v. Kr. het die slawe-bendes onder Spartacus die land verwoes, en vir 'n lang tyd was die allesoorwinnende Romeinse legioene magteloos voor hul opgekropte woede.
Cato het ingesien dat, nieteenstaande die instroming van geld uit die verowerde lande, die landbou, waarop Rome se voorspoed gegrond was, deur baie gevare bedreig word.
Wanneer 'n land ekonomies begin swaar kry, is daar altyd mense wat 'n oorsaak daarvoor soek in die verandering van sedes en gewoontes. "In die goeie ou tyd," sê hul, "toe ons nog getrou was aan die oorlewering van die voorouers, het dit nooit so sleg gegaan nie." Die verlede, aanskou deur 'n bril van sentimentele[1] (36) rooskleurigheid, sien hul as 'n paradys in vergelyking met die teenswoordige. So het Cato ook die nuwe Puniese landboustelsel verguis en die nuwe instroming van Griekse kultuur veroordeel. "Omdat ons die mores maiorum, die voorouerlike gewoontes, verlaat, daarom gaan ons so agteruit." So het hy geredeneer. "Moenie Grieks leer nie - dis die taal van slawe," het ou Marius, nog 'n ystervaste konserwatief, gesê. "Moet niks met Griekse dokters te doen hê nie," is Cato se waarskuwing aan sy seun. "Hul sal jou vergewe - en hul vra so baie geld!"
Maar die ware oorsaak lê elders. En mettertyd het selfs Cato gevind dat dit wys is om nuwe invloede te verstaan, en as hul goed is, aan te neem; dit help nie om volstruis met hul te speel nie. Want Ploutarchos vertel ons dat hy in sy gryse ouderdom die Griekse skrywers begin lees het.
§2.
editTiberius Gracchus was 'n jongeling van edele bloed en hoë ideale. Sy moeder Cornelia het hom geleer om 'n hart te hê vir die armes en verdruktes. In haar het hy 'n beeld gesien van kultuur en reinheid, van pligsbesef teenoor staat en medeburger. Rondom het die rykes steeds ryker en gemener geword, en die regerende senatore-stand wrede en heerssugtiger. Want Rome was nou meesteres van die beskaafde wêreld: Carthago, Spanje, Griekeland, Klein-Asië het almal van hul skatte en hul burgers in die skoot van Rome moes stort. Voorspoed en rykdom het gekom, en daarmee 'n sedelike verarming onder die bevoorregtes en 'n stoflike verarming onder die laer stand.
Toe Tiberius deur Italië gereis het, was daar te sien aan die een kant die uitgestrekte landgoed van 'n kapitalis, en aan die ander die verlate huisie van die boer wat sy land as soldaat gedien het. Daar was nie meer (37) land vir die klein-boer nie. En terwyl Tiberius die gesig aanskou, kom die gedagte by hom op: "Maar die meeste van hierdie land behoort aan die Staat. Dit is ager publicus, oorspronklik van die vyand afgeneem en uitgedeel, maar nie as permanente besitting nie, aan die burgers wat geveg het. En 'n wet in die jaar 367 het vasgestel dat niemand meer as 500 iugera[2] van die gemeenskaplike grond mag hê nie. Waarom kan die Staat die land nie terugkry en dan uitdeel aan die landelose burgers nie?" Die gedagte het by hom posgevat, en is ingeskerp in sy gemoed deur die ellende wat hy in Italië gesien het en die boodskappe van die volk: "Help ons, Gracchus!" "Die wilde diere," het Tiberius later gesê, "het holtes en skuilplekke, maar diegene wat vir Italië veg, dool huisloos met vrou en kinders rond, en met niks wat hul hul eie kan noem behalwe die lug en die sonskyn nie."
Binnekort het die idee vrug gedra. Tiberius as volkstribuun in 133 v. Kr. het 'n wet deurgedruk waarvolgens niemand meer as 500 iugera van die staatsland mag besit nie. Dit was die ou wet van 367, weer in die lewe geroep. Baie eienaars sou dus groot stukke grond moes afgee; en die voorstel was om hierdie stukke onder die volk te verdeel.
'n Prysenswaardige skema word dikwels bederwe deur te veel entoesiasme. Tiberius het oorspronklik gemeen om kompensasie te betaal aan die wat land moes afgee. Dit sou billik gewees het, want, met die verloop van tyd (oor sowat tweehonderd jaar) het die possessores aan wie die gemeenskaplike land deur die Staat (38) geleen is, dit geleidelik as hul private eiendom beskou. Niemand het hul oor die kwessie bemoei nie, en dele van die staatsland (ager publicus) is verkoop en gekoop. De facto, ofskoon nie de iure nie, was dit private eiendom. Dit het Tiberius self besef, en wou dus kompensasie gee.
Maar die stroom van proletariese opwinding ("Nou sal ons vir die kapitaliste wys!" "Nou gaan die volk regeer!" "Ons is tog die ruggraat van die land!" "Redeunt Saturnia regna!" - "Die Goue Eeu kom weer!") was te veel vir hom. In sy twede voorstel het die kompensasie-klousule verdwyn. So sterk was die entoesiasme dat toe die ander tribuun M. Octavius die wet wou verbied, Tiberius die rewolusionêre weg gekies het van Octavius te ontslaan. Nog verder op die pad van rewolusie het hy gegaan, toe hy, heeltemal onwettig, in die volgende jaar weer vir die tribunaat gestaan het. Die wetliewende Romeine het dit te erg gevind. Daar was 'n oproer: Tiberius het omgekom. So is daar vir die eerste keer sedert seshonderd jaar burgerbloed in Rome vergiet. So het 'n edele ideaal, deur gebrek aan ewewig, skipbreuk gely. En selfs die liberale Scipio Africanus Minor, toe hy daar ver in Spanje voor die mure van Numantia die nuus hoor, kon daarop die vers van Homeros toepas:
- So mag hul almal vergaan, wat aan sulke werke die hand slaan!
Die werk van Tiberius het ná hom geleef: die kommissie, deur hom aangestel, het die wet uitgevoer. Maar die volk het hul leier gemis; en na 'n rukkie het hul hom begin vergeet. Daar was egter een wat nie kon vergeet nie. Nege jaar na die dood van Tiberius het sy broer Gaius tribuun geword. Hy was minder edel as Tiberius, meer van 'n staatsman, daarop uit om wraak te neem. Hy het die landelose burgers op baie (39) maniere gehelp : deur die stigting van coloniae (staatskolonies van sowat 'n driehonderd famielies op verowerde gebied geplant), deur bouwerk te verskaf, en die maak van paaie. Hy het populêr geword deur koring uit te deel vir 'n geringe prys - byna verniet - en het sodoende 'n ellendige probleem vir Rome in die lewe geroep. Hy het probeer om die politieke partye teen mekaar uit te speel en om die Senaat te verneder. Hy het, as logiese gevolg van sy liberale politiek, die stemreg aan die Italiërs wou gee. Hul het vir Rome geveg en tot die Staatsonkoste bygedra: dit was nie meer as reg dat hul ook 'n stem sou hê nie. Maar hier het Gaius die droewige ontdekking gemaak dat die armes net so selfsugtig kan wees as die rykes. Die Romeinse Arme-Blankes wou nie hul voorregte deel nie: hul besef van reg het by hulself geëindig: hul simpatie was beperk tot die stadsgepeupel (Plebs Urbana.)
Nou het die Senaat hul kans gesien. Hul het 'n sekere Livius Drusus aangehits om meer land, meer koring te belowe as Gaius, en - geen stemreg vir die Italiërs nie. Die plan het geluk. Skielik is Gaius onpopulêr. Die bendes van die twee partye kom in botsing en die Senaat verklaar krygswet : "Videant consules ne quid detrimenti respublica capiat"-"laat die kon- suls toesien dat die staat g'n kwaad ly nie." 'n Proklamasie bied aan 'n gelyke gewig in goud vir die hoof van Gaius. Ongewapend het Gaius in die hand van sy vyande geval. Septumelius, eertyds sy vriend, het sy hoof na die konsul gedra, nadat hy dit swaarder gemaak het deur lood in die mond te stop...... Drieduisend van Gaius se volgelinge is ter dood gebring. Die vrome konsul het met hul geld en goed 'n tempel van Concordia, Eendrag, gebou. In die nag het iemand op die muur geskrywe :
- "Tweespalt en woede het die tempel van Eendrag gebou." (40)
Eensaam en beroof van die seuns wat sy destyds trots haar juwele genoem het, gaan hulle moeder Cornelia nou in haar villa te Misenum woon......
Kort na die dood van Gaius is die uitdeel van lande aan die burgers stop gesit. Burgers wat reeds land ontvang het, is toegelaat om dit te verkoop. Tiberius het 'n wet gemaak dat dit nie verkoop mag word nie, maar hy het nie rekening gehou met die menslike natuur nie. Hieruit het twee gevolge gevloei: die rykes het weer hul latifundia vergader en die armes het weer landeloos geword en by die Arme-Blanke-leër in die stad aangesluit. En nou dat hul koring verniet of baie goedkoop kry, was die stad tog so aanloklik.
Der Kreislauf ist vollendet - die sirkel is weer vol: nou begin die Landkwessie van voor af aan. (41)
Voetnotas
edit- ↑ Heitland op. cit. p. 157
- ↑ Iugerum. Oorspronklik die grond wat juk(jugum) osse in 'n oggend kan afploeg, net soos ons morge ook beteken die grond wat juk osse in 'n môre kan afploeg. (Ons boere reken nog dat hul 'n morg in 'n voormiddag kan afploeg). 'n Iugerum is ongeveer vyf agstes van 'n Engelse "acre."