Die Romeinse Boer/Varro
← Romeinse Landbou in die latere Republiek | Die Romeinse Boer IV. Varro deur T.J. Haarhoff |
Vergilius → |
IV. Varro
Die Romeinse Plaas in die eerste eeu voor Kristus
Toe hy tagtig jaar oud was in die jaar 37 v. Kr., het Marcus Terentius Varro, "die geleerdste van die Romeine," sy boek oor die boerdery geskrywe. Dit was byna 'n honderd jaar na die boek van Cato. Die Republiek was op 'n end, en die Romeinse wêreld het op die drumpel gestaan van die Keiserryk.
Die verwarring wat in die laaste jare van die Republiek ontstaan het, is in bloed geskrywe. Die tradisionele ideë het ook in die omwenteling gedeel. Terwyl, byvoorbeeld, die ou Romein 'n vaste respek gekoester het vir private eiendom, het dit in die tyd van Sulla (± 80 v. Kr.) gewoonte geword om soldate ná 'n lang veldtog te beloon met plase, van politieke vyande geroof. In die burgeroorloë wat Italië in hierdie tyd verwoes het, is hierdie stelsel gedurig toegepas. Cromwell in Ierland en baie ander in moderne tye het dit (41) ook probeer. Die gevolg was 'n mislukking. Hierdie Sullani, soos hul genoem is, Sulla-mense, was gewoon om maklik buit te versamel op die veldtog en om al hul geskille met die swaard te besleg. Die boerdery het dus teëgeval : dit was te eentonig, te stadig, en die probleme daarvan nie gehoorsaam aan die argument van geweld nie. Binnekort het so 'n Sulla-man dan sy plaas tot geld gemaak, en na die aanloklik stad getrek. Daar het die polietisie wel soms betaling gehad vir 'n vuis wat onwettig 'n slag kon slaan; daar was die deug van lydsaamheid minder nodig en vermaak volop.
Varro, soos 'n mens kon verwag van iemand wat, volgens Ritschl se berekening, seshonderd-en-twintig boeke geskryf het, is baie meer sistematies as Cato en meer geïnteresseer in die prinsiepe van die saak. Sy styl is dan ook meer literêr; ofskoon styf en outyds, is dit fors en soms vol humor. Hy is minder hard en streng teenoor slawe: die Romeinse karakter het die humaniteit van Griekeland begin voel. Hy is nog Romein genoeg om prakties en ter sake te wees. Daar is minder bygeloof. Maar Varro ook vind nie sy pad na die eerste rang van die letterkunde nie: hy verdwaal in 'n verbasende bos van ryk geskakeerde feite.
Van al sy boeke het net die De Re Rustica (Oor die Boerdery, ses uit die vyf-en-twintig boeke van die De Lingua Latina (Oor die Latynse Taal) en 'n aantal fragmente die moderne tyd bereik. Sy grootste werk, die Antiquitates (Oudhede) het vir byna veertien-honderd jaar gelewe. Petrarca vertel ons in sy briewe dat hy die een-en-veertig boeke van hierdie werk in sy besit gehad het, en dat hy hul aan sy ou meester geleen het; en hy, deur armoede gedryf, het hul by 'n Bank van Lening gebring, en is toe dood, voordat hy hul kon terugkoop. Bitter, sê Petrarca, is sy folterpyne van verlange na die boeke. Hul het nooit weer opgedaag (42) nie. Die de Re Rustica het byna 'n dergelike paadjie opgegaan.
Die doel van die de Re Rustica is patrioties. Varro wil die volk ompraat om terug te gaan na wat hy "die goddelike land" noem, na 'n lewenswys "wat nie alleen die oudste is nie, maar ook die beste van almal." Die landbou word voorgestel as voorspoedig; die plase van Italië (so spog die sprekers in die dialoog) is goed ontgin en in bloeiende welstand. En daar is, g'n rede waarom ons daaraan sou twyfel dat, vir die tydperk ná die uitspattinge van Sulla en voor die totstand kom van die gewoonte om die land van politieke vyande verbeurd te verklaar, hierdie bewering essensieel waar is nie.
"Liewe Fundania," skryf Varro[1] aan sy vrou, "as ek die tyd gehad het, sou ek hierdie boek in 'n beter vorm oorbring. Onder die omstandighede, sal ek my bes doen, sonder om te vergeet dat haas nodig is. Want hul sê, die mens is 'n waterblasie: des te meer moet dit van 'n ou man waar wees. Ek is in my tagtigste jaar, wat my waarsku om my goed op te pak, voordat ek my reis uit die lewe aanvaar.
Daar jy dus 'n plaas gekoop het en dit deur goeie ontginning vrugbaar wil maak, en daar jy my vra om my aandag aan die saak te gee, sal ek kyk wat ek kan doen; in die hoop dat ek nie alleen gedurende my lewe jou mag raai wat gedoen moet word nie, maar ook na my dood. Die voorspellinge van die Sibulla[2] was nie (43) alleen gedurende haar lewe vir haar tydgenote tot hulp nie, maar ook ná haar dood selfs, vir mense aan wie sy nooit gedink het nie. Na soveel jare raadpleeg ons nog haar boeke volgens staatsgewoonte, as ons wil weet wat om te doen ná een of ander wonderteken. Sal ek dan die gedagte duld dat ek vir my dierbare nie eers in my leeftyd iets nuttigs kon doen nie?
Daarom gaan ek vir jou drie boeke skrywe...... en daar (soos hul sê) die gode diegene help wat hul eer, sal ek eers, nie soos Ennius[3] en Homerus die Muse aanroep nie, maar die twaalf groot gode van die Olimpiese hemel. (44)
......En nou dat ek hierdie gode aanbiddend aangeroep het, sal ek die gesprekke te boek stel, wat ons onlangs gehad het oor die boerdery. Daaruit sal jy kan leer wat jy moet doen. Maar ingeval jy later vir iets sal soek, wat ek nie behandel nie, sal ek jou verwys na Griekse, en Latynse outeurs by wie jy dit sal kry...... Die vermaardste van al hierdie skrywers is Mago die Kartager, wat in die Puniese taal geskryf het, en vér-verspreide stof in 28 boeke versamel het...... My materiaal sal uit die bronne spruit: uit eie ondervinding op my plase, uit wat ek gelees het, en uit wat ek van deskundiges gehoor het.
ii. By geleentheid van die Sementivae (Saaifees) het ek gegaan na die tempel van Tellus (Aarde) op uitnodiging van die aeditumus (tempelbewaarder), soos ons van ons vaders geleer het om te sê, of aedituus, soos ons fyn moderne stadsheertjies (urbani) wil hê dat ons moet sê. Daar ontmoet ek vir Gaius Fundanus, my skoonvader, vir Gaius Agrius, 'n Romeinse ridder[4] van die Sokratiese skool,[5] en vir Publius Agrasius, 'n tollenaar.[6] Hul was besig om te kyk na 'n kaart van Italië (45) op die muur. "Wat maak julle hier?" sê ek. "Die Saaifees het tog seker nie vir julle snipperuurtjies-here hierheen gebring, soos dit gewoon was om ons vaders en grootvaders te bring nie!"
"Dieselfde rede," sê Agrius, "het, soos ek dink, vir ons en vir jou hierheen gebring, naamlik die uitnodiging van die tempelbewaarder. So ja, (en jou knik dui aan dat ek reg is) moet jy by ons vertoef, totdat hy terugkom. Want die aedilis[7] wat oor hierdie tempel gesag voer, het hom laat haal, hy het nog nie teruggekom nie, maar het 'n boodskap agtergelaat dat ons vir hom moet wag. Laat ons dus, terwyl hy op weg is, gebruik maak van die ou spreekwoord: "Die Romein wen deur stil te sit".[8]
"Goed," sê Agrius; en met die idee dat (soos die spreekwoord sê) die langste deel van die reis by die hek eindig,[9] stap hy na die banke toe, en ons volg. Na ons plaas geneem het, sê Agrasius: "Julle, wat deur baie lande gereis het, het jul ooit 'n beter beboude land as Italië gesien?" "Soos ek dink"' sê Agrius, "is daar g'n land wat so min dele onbebou het nie. In die eerste (46) plek, daar Eratosthenes[10] die aarde verdeel het in Noord en Suid (die mees natuurlike verdeling), en daar die Noorde ongetwyfeld gesonder is as die Suide, en omdat die gesonder dele ook meer vrugbaar is, moet ons sekerlik erken dat Italië oorspronklik meer geskik was vir landbou as Asia,[11] in die eerste plaas omdat dit in Europa is, en in die twede, omdat hierdie deel van Europa, 'n sagter klimaat het as die binneland, waar die winter byna g'n end het nie. En g'n wonder nie; want daar is streke tussen die Noordelike Sirkel en die Noordpool waar die son selfs vir ses maande aanmekaar nie gesien word nie."
"Alla wêreld," sê Fundanius, "dink jy tog nie dat iets daar kan groei, of, al sou dit groei, dat dit gekweek kan word! Die woorde van Pacuvius[12] bly waar, dat as daar ewige sonskyn of nag was, die vrugte van die aarde almal sou vergaan van vurige hitte of anders van koue. Wat my betref, selfs hier waar daar 'n ordentlike pouse is tussen dag en nag, sou die lewe onmoontlik wees op 'n somersdag, onafgebroke deur 'n middagslapie......
In Italië, aan die ander kant, groei daar nie alleen alles wat nuttig is nie, maar dit groei volmaak. Watter graan kan ek vergelyk met die van Campania? Watter koring met die van Apulia? Watter wyn met die Falerniese? Watter olie met die van Venafrum? Is Italië nie so met vrugtebome beplant, dat dit op een uitgestrekte boord gelyk nie? Was Friegië meer met druiwestokke bedek - Friegië wat Homeros "wingerdryk" (47) noem? Het Argos, deur dieselfde digter as "graanryk" beskrywe, meer koring voortgebring? In watter ander land bring een iugerum vyftien cullei[13] wyn voort, wat in sommige dele van Italië gebeur.
Op twee punte veral, soos dit lyk, het die Italiërs gelet in die boerdery: sou die opbrings die onkoste en die arbeid regverdig, en of die plek gesond was. As enigeen van die twee ontkennend beantwoord word, en 'n man wil nogtans die land ontgin, dan is sy verstand aangetas en hy moet oorhandig word aan sy verwante...
Maar hier is mense wat hierdie dinge beter kan uitlê. Want ek sien vir Gaius Licinius Stolo en Gnae Tremellius Scrofa aankom. Dit was die voorouers van Stolo wat 'n wet gepasseer het omtrent die grootte van land wat elkeen kon besit (want dit was 'n Stolo wat die bekende wet in die lewe geroep het, dat 'n Romeinse burger nie meer as vyfhonderd iugera mag besit nie), en Stolo self het, weens sy sorgvuldige boerdery vir hom die naam toegeëien, want g'n waterloot of stolo (wat om die bome van die wortels af uit die grond groei, en wat hy gewoon was om rondom uit te grawe) kon op sy plaas gevind word nie.
Die ander man wat ek hierheen sien kom, is Cn. Tremellius Scrofa, 'n kollega van jou op die kommissie van twintig man vir die verdeling van lande in Campania. Hy is 'n man van die hoogste beskawing en word ook gereken vir die grootste Romeinse outoriteit oor die boerdery. "En met reg," sê ek. "Want sy plase is so pragtig ontgin, dat hul vir baie mense aangenamer is om te aanskou as die koninklike paleise van ander. In sy geval kom hul die plaashuise bekyk om stoorkamers (48) vir vrugte te sien, nie, soos in die geval van Lucullus, prentegalerye nie. "Daar is 'n prent," sê ek, "van ons vriend se boord aan die bo-end van die Via Sacra, waar vrugte vir goud verkoop word."
Intussen kom die twede by, en Stolo sê : "Is die dinee tog nie al opgeëet nie ? Want ons sien ons gasheer Fundilius nie." "Hou maar moed" sê Agrius, "want daardie eier wat vir die renwaens in die Sirkusspele, die laaste omloop aankondig, is nog nie weggeneem nie: ons het nog nie eers daardie eier gesien, wat gewoonlik die deftigheid van 'n dinee begin nie.[14] So dan, totdat ons die eier saam kan aanskou en die tempelbewaarder kom, vertel ons wat die hoogste doel van die landbou is, nuttigheid of plesier of albei. Want hul vertel my dat jy nou ons landbou-ekspert is, soos Stolo dit voorheen was.
(I.3.) Die landbou is nie alleen 'n kuns nie, maar 'n kuns wat belangrik en noodsaaklik is. Dit leer ons wat ons in elke soort land moet doen en wat ons moet saai, en watter aarde gedurig die meeste vrug gee. Die elemente van die landbou is dié waaruit, volgens Ennius, die heelal bestaan, water, aarde, lug en son. Hul moet ons leer ken, voordat ons saai; want hul is die oorsprong van alle voortbringsels. Hier moet die boer begin, en op twee doeleindes mik: nuttigheid en plesier. Nuttigheid soek profyt, plesier soek genot. Nuttigheid speel 'n groter rol as plesier" - 'n prinsiep so reg na Cato se hart! Maar, sê hy, dit is darem ook (49) goed om jou plaas mooi te maak: jy kry 'n beter prys!
Die ou voorskrifte en reseppies en magiese formules van Cato en die ouer skrywers soos die gebroeders Sasserna word glimlaggend aangehaal. Byvoorbeeld, die resep teen luise:
"Sit wilde komkommer in water en giet die water op die plek wat jy wil beskerm, en g'n luise sal naby kom nie. Of anders neem gal van 'n os, meng dit met asyn en smeer dit op die bed." En die resep om hare te verwyder: "Gooi 'n geel padda in water, wat jy moet kook tot op een derde, en smeer jou daarmee in."
"Jy moet liewers uit daardie boek aanhaal," sê ek, "iets wat betrekking het op Fundanius se gesondheid. Want sy voete is dikwels seer, sodat hy sy voorhoof in rimpels saam trek."
"Ja, asseblief," sê Fundanius, "want ek wil liewers van my voete hoor, as hoe om "beet-voete" (pedes betaceos) behoorlik te plant."
"Ek sal," sê Stolo met 'n glimlag, "die eintlike woorde aanhaal... "U ONTHOU IK NOG, GENEES MIJN VOETEN TOCH; AARD BEHOUD DE PIJN, ZIJN GEZONDHEID MIJN - IN DEZE VOETEN." Dit moet jy driekeer negemaal sing, die aarde raak, na onder toe spuug, en dit al vastende sing." "Ja," sê ek, "jy sal baie ander wonders in die boeke van die Sassernas vind, wat almal met die landbou niks te doen het nie, en wat daarom van die hand gewys moet word." "Asof," sê hy, "jy nie in anders skrywers ook voorbeelde van dieselfde ding kon kry nie! Is daar nie dosyne in die boek oor die landbou van die beroemde Cato nie - hoe om 'n placenta of 'n libum (soort koek) te maak en hoe om 'n ham te sout?
"Jy vergeet die wonderlike resep," sê Agrius, "waarin hy sê: As jy by 'n dinee baie wil drink en vry wil fees vier, moet jy vooraf rou kool en asyn eet - 'n blaar of vyf!"
So, met 'n grappie hier en daar, gaan die gesprek voort. Hul bespreek die vertakkinge van die landbou, (50) die aard en die ligging van die grond, en in watter orde jy bome moet plant. Die beste orde (so besluit Scrofa) is die "quincunx," so - :.: Op hierdie manier kry die bome son en lug aan alle kante en dra dan die meeste vrugte. Buitendien is dit mooi vir die oog. Dan weer die soorte land wat die meeste werd is vir die boer. Cato plaas eerste die land wat goed is vir wingerd; twede, goed bewaterde tuinland; derde, land geskik vir wilgerbome; dan olyflande, dan weiland, en eindelik koringland. Hiermee gaan Scrofa nie akkoord nie: hy sou weiland eerste plaas. Verder word die aankweek en uitplant van wingerdstokke bespreek, landmate, plaasgeboue, heinings, grenslyne. Omtrent slawe lees ons (I.17) dat hul nie te bangerig moet wees en ook nie te geestig nie. Die wat oor hul gestel is, moet enigsins opgevoed wees, van goeie karakter en ouer in jare. Hul moet ook goed wees in hul werk, sodat hul 'n voorbeeld vir die slawe kan wees. Die slawe moet kan sien dat die voorman sy posiesie te danke het nie aan voortrekkery nie, maar aan die kwaliteit van sy werk. "Ook moet die opsiener nie toegelaat word om die slawe met slae, liewer as met woorde, te regeer nie." Die opsieners moet goedgesind gemaak word deur 'n liberale behandeling en "jy moet ook met die beste werkers die werk wat gedoen moet word, bespreek, want waar dit gebeur, voel hul dat die baas iets van hul dink en dat hul nie heeltemal minderwaardig is nie." (Die Romein was soms ook psigologies-prakties.) Af en toe moet jy hul verlof gee om 'n bees van hul eie, op die plaas te laat wei, en op ander dergelike maniere vir hul goedgesind teenoor jou maak.
Naas die slawe is daar die dagloners (mercennarii) en 'n soort vry bywoners wat land van die baas kry, maar 'n baie nederige stand deurgaans beklee. In oorlogstyd kan hul deur hul baas rondgestuur word soos slawe. Hul vryheid was meer teoreties as werklik. Hul kom nou vir die eerste keer te voorskyn in die geskrifte (51) oor die landbou en word tegnies coloni genoem, 'n woord was soms ook deur Varro in sy eenvoudige betekenis van "ontginner, landbewerker" gebruik word.
Vrystelling van slawe was nie iets seldsaams nie. Uit een van Cicero se redevoeringe teen Antonius (Philippicae) (viii. 32) kan ons opmaak dat 'n baas dikwels na ses jaar troue diens die slaaf sy ontslag gegee het. In die briewe lees ons van die vrystelling van Cicero se slaaf (en vriend) Tiro. (In 'n later tyd skrywe Poulus aan Filemon in verband met die loslating van sy slaaf Onesimus). Of die vrylatinge op die land ook so dikwels plaasgevind het, mag wel betwyfel word; maar oor die algemeen kan ons bevestig dat die Romein in hierdie opsig betreklik gulhartig was.
Die grootte van die plaasstaf, trek-osse, honde, mandjies, kuipe, oeste word vervolgens bespreek. Die jaargetye, en wat in elke periode gedoen moet word, is 'n belangrike onderwerp, en vereis 'n kennis van die sterrekunde. Al die maniere van mis gee, van ent en inlê, van lusern saai, van hooi opmaak, van graan afmaai, word kortliks bespreek. Die uittrap van druiwe (soos dit nog kort gelede gedoen is in die Westelike Provinsie), die onderskeid tussen tafel- en wyn-druiwe, die olyfplantasies (olyfolie het die plek van botter ingeneem, net soos heuning vir suiker gebruik is) die pluk en pars van die olyfvrug, waarvan sommige, soos in die geval van druiwe, vir tafelgebruik gehou word - dié en baie ander onderwerpe beslaan die res van die eerste boek.
Die twede boek handel oor vee. Die inleiding bevat gedagtes tot lof van die boer.
"Ons roemryke voorvaders het nie sonder oorsaak die landelike Romeine hoër geskat as die stedelike nie. Want, net soos diegenes wat op die land binnekant die huis woon en werk, minder energie het as die wat besig is op die land, so het ons voorouers diegenes wat 'n sittende lewe in die stad lei, luier geag as die wat (52) die land bebou. Gevolglik het hulle die jaar só verdeel dat hul slegs al om die agste[15] dag stadsbesigheid doen, en die ander sewe dae op die plaas werk. Solank as hul hierdie instelling bewaar het, het hul twee dinge bereik: hul lande was in bloeiende welstand en hul eie spiere was sterker, sodat hul sonder die stedelike "gumnasium"[16] van die Grieke kon klaar kom. Maar nou is mense skaars tevrede met een "gumnasium" elk, en beskou nie dat hul 'n huis besit, tensy dit versier is met 'n klomp Griekse name nie......
Nou dat byna alle huisvaders die ploeg en die sekel verlaat het, en die stad ingekruip het, en verkies het om hul hande te roer in die teater en die sirkus liewer as in die koringvelde en wingerde, nou maak ons kontrakte om koring te kry, waardeur ons vet kan word, van Afrika en Sardienië af, en die wyn wat ons stoor, kry ons van oor die see af uit die eilande Cos of Chios. En so, in die land waar die herder-stigters van die stad hul kinders landbou geleer het, het die kinders, in teenstelling met wat hul geleer het, en teen die wet en deur gierigheid, koringland in weiland verander, onkundig van die verskil tussen landbou en veeboerdery.........
Want grasende vee vermeerder nie die voortbrings van wat op die land groei nie - hul verwyder dit met hul tande; terwyl die mak os (wat tuis gevoer word) die koring beter laat groei op die land, en die voer op die braakland. "
Die oorsprong van die veeboerdery word nou bespreek. Wat ook al die beginsel is waaruit diere spruit (53) (water, het Thales van Milete gesê, vuur, Zeno van Citium, "natuur," Aristoteles, terwyl Puthagoras meen dat hul gedurig siele van ander lewende wesens kry, en weer hul gedurig siele van ander oorgee), dit is in elk geval seker, dat die menslike lewe 'n ewolusie[17] deurgemaak het, in die vroegste stadium waarvan mense geleef het van die spontane voortbringsels van moederaarde. Toe het die herderlike stadium gekom: die mens het diere mak gemaak en aangehou (tot vandag toe, sê Varro, is daar nog wilde bokke, varke, bulle en perde), en hul het wilde vrugte gepluk en gebêre vir tyd van skaarste. Skape is die eerste mak gemaak, weens hul sagte geaardheid en hul nuttigheid: want hul het nie alleen die mens se liggaam gevoed nie, maar dit ook met kleding voorsien. Die derde stadium was die landbou. Terwyl die mens nog baie spore van die vorige stadiums behou het, het hy nogtans trapsgewyse sy weg na ons hedendaagse beskawing toe gebaan. 'n Bewys van die feit dat die veeboerdery hoog aangeskrewe gestaan het by die outydse mense, vind Varro hierin dat die astroloë die name van vee aan die sterre gegee het: meer as dit, in die twaalf vernaamste sterre kom die Ram en Stier selfs vóór die gode Apollo en Hercules (gewoonlik Gemini, die tweeling, genoem). Die veeboerdery beklee dus ongetwyfeld 'n hoë rang - "dignitas"! Selfs die woord "Italië" kom oorspronklik van vitulus, 'n kalf, en dink maar aan al die plekke wat diername het - die Taurusgebergte in Sierië, die Bosporus (=Eng. Ox-ford en die Aigeïese See (Gr. aix - bok). En dan is daar die feit dat die stigter van Rome, Romulus, deur 'n herder, Faustulus, groot gemaak is...... (54)
Die wetenskap van die veeboerdery word onder drie hoofde bespreek, elk met drie onderafdelinge - kleinvee: skape, bokke, varke; grootvee: beeste, esels, perde; indirekte hulpmiddels: muile, honde, herders. Elk van hierdie onderafdelinge het nege verdere dele - een-en-agtig hoofde van bespreking altesaam!
So, met Romeinse ordeliewendheid, gaan Varro voort; maar in sy tegniese besonderhede kan ons hom nie volg nie. Voor ons egter sy twede boek verlaat, moet hy praat oor die geskiedenis van die os.
Die os is die maat van die mens in die plaaswerk en die dienaar van die graangodin, Ceres. So begerig was die outydse mense om sy lewe te bewaar, dat hul met die dood gestraf het die mens wat hom om die lewe gebring het. Dit getuig Attica en ook die Peloponnesus. Dit is aan hom dat Bouzuges te Atene en Homoguros te Argos hul roem te danke het. "Ja, ek weet," sê Vaccius, "hoe groot die waardigheid van die os is, en dat baie dinge na hom genoem word om aan te dui dat hul groot is - bousukos ('n bul-vy), boupais ('n blok van 'n kind), boulimos (bul-honger)...... En uit die os se verrottende liggaam, kom daar lieflike bye,[18] moeders van heuning: daarom noem die Grieke hul bougeneis (os-gebore). En dit staan geskrywe dat 'n os duideliker Latyn gepraat het as Hirrius in die Senaat nadat hy praetor verklaar is."[19] (55)
"Maat van die mens, socius hominum. Van die vroegste tye af het die os in 'n besonder noue betrekking tot die mens gestaan. In die vroeë dae van Griekeland het Hesiodos en Homeros hom met vriendelike vertroulikheid beskrywe - "osse met hul verwronge horings en skommelende stap." Die Ou Testament vertel dat 'n os nie gemuilband mag word as hy dors nie, en Poulus haal dit tweemaal met goedkeuring aan.[20] Een van die aandoenlikste skilderinge in Lucretius stel voor die smart van die kalf wat vrugteloos treur oor sy moeder, wat op die altaar geoffer moet word, en Vergilius teken vol simpatie die weemoed van die os as hy sy jukmaat skielik van die pes sien beswyk. Selfs die lughartige Ovidius kla oor die ondankbaarheid van die mens wat die os vir hom sy brood laat wen, en hom dan slag.
Deur die eeue heen, "geduldig, gedienstig, gedwee," is die os die maat van die mens. Jood, Griek, Romein - vir almal het hy die ploeg getrek. Ook vir die Afrikaanse Boer; en met hom is hy verenig in nog 'n ander Trek, toe hy daardie veldmyle afgestap het en die eensaamheid van die vlakte met sy mymerende geselskap versag het.
Die derde boek handel oor kleinvee. Weer, in die inleiding, prys Varro die landelike lewe. Die boerelewe is oneindig ouer as die stadslewe, sê hy. "En g'n wonder nie, want die goddelike natuur het ons die velde gegee, menslike kuns het die stede gebou.[21] Die kunste, so sê hul, is almal in Griekeland ontdek binne die tydperk van 'n duisend jaar; maar nog nooit was daar nie lande om te ontgin op die aardbodem nie. En nie alleen is die landbou ouer nie: dit is ook beter. (56)
Daarom was dit nie sonder oorsaak, dat ons voorouers hul burgers uit die stad teruggestuur het nie, want in vredestyd is hul deur die boere gevoed, en in oorlogstyd deur hul verdedig.[22] En met goeie grond het hul dieselfde land "Moeder" en "Ceres" genoem, en geglo dat die wat haar bebou, 'n pligmatige en nuttige lewe lei, en dat hul al was wat oorgeskiet het van die geslag van koning Saturnus."[23]
Daar volg 'n lang bespreking oor plaashuise en hul moderne weelde. Een man het die visse in sy damme alleen vir byna £400 verkoop, terwyl die profyt op die kouvoëltjies in die huis byna £500 beloop het! Ons lees van al die ander diere wat om die huis aangehou word - poue, bos- en tortel-duiwe, pluimvee (waaronder die gallinae Africanae of tarentale) slakke (vir soep!) en muise (as 'n lekkerny beskou!) wat vet gemaak word in 'n donker erde-vat, met akkers, okkerneute en kastaiings voorsien. Maar die slak verkies om vet te word op 'n mengsel van meel en moskonfyt, waarmee die kante van die hok gesmeer moet word!
"En so," sê Appius, "wat betref plaashuis-boerdery, kom ons tot die derde bedryf, en dit handel oor visdamme."
"Kaf met die derde bedryf," sê Axius. "Dink jy, omdat jy gewoon was in jou jeug om nie heuningwyn te drink nie weens vrekkerigheid, dat ons daarom heuning gaan verwaarloos?"
"Hy praat die waarheid," sê Appius vir ons, "want ek is agtergelaat met twee broers en twee susters om te (57) onderhou. Een van my susters het ek aan Lucullus afgestaan sonder 'n trouporsie, en dit was alleen, toe hy 'n erfenis ten gunste van my opgegee het, dat ek self heuningwyn tuis begin drink het......
Bye is nie eensaam van aard soos arende nie; hul is gesellig, soos mense. En ofskoon graguli (soort voëls) ook gesellig is, tog is hul anders: want bye span saam om te werk en te bou, wat nie die geval met graguli is nie. Bye het metode en kuns: van hul leer die mens om te werk, te bou en voedsel weg te bêre...... Elke sel in die koek het ses hoeke, net soveel as die by voete het; en die meetkundiges bewys dat as jy seshoekige figure gebruik om 'n sirkel te vul, jy die minste ruimte ongevul laat.[24] Die bye kry hul kos buite, en werk binne die korf, en maak die soetste ding wat daar is, deur gode en mense albei gelief, want dit bereik die altare (as offerande), en vorm 'n deel van die vernaamste deel van die dinee, en ook van die dessert. Hul het state, soos die van die mens, met koning,[25] regering en maatskappy. Hul volg ná alleen wat skoon is, sodat g'n by ooit op 'n vuil of ongeurige plek gaan sit nie, en ook nie op 'n plek wat met welriekende olie besprinkel is nie.
Dus, as 'n man vol fyn geure hul nader, steek hul hom - nie soos vlieë, wat hom lek nie. En niemand sien hul, soos vlieë, op vleis of bloed of vet sit nie. Hul sit dus net op dinge wat 'n soet geur het. 'n Mees onskuldige diertjie is die by, want dit bederwe g'n man se werk, deur dit uit een te skeur nie, en is dapper genoem om weerstand te bied, as iemand sy besittings wil verstoor, en tog bewus van sy eie swakheid. Met reg word (58) hul die "voëls van die Muses" genoem, want as hul ver- sprei is, word hul gou-gou bymekaar gebring deur middel van simbale of handgeklap, en soos die mense aan die goddelike Muses Helicon en Olumpos vir 'n woonplek gegee het, so het die natuur aan die bye die wilde, blombedekte berge gegee. Hul volg hul dierbare koning oral, en as hy moeg is, ondersteun hulle hom, as hy nie kan vlieg nie, neem hul hom op hul skouers, begerig om hom veilig te bewaar. Nooit self ledig nie, haat hul dié wat ledig is: dus val hul die nie-werkende mannietjies-bye (darre) aan, en verdryf hul uit die nes, omdat hul nie met die werk help nie, en die heuning opeet......
Hul woon almal soos soldate in 'n leër en slaap en werk gelyk om die beurt, en hul stuur as 't ware kolonis uit, waarvan die leiers sekere dinge gedaan kry deur 'n geluid wat die oorlogstrompet naboots. Dit doen hul dan, wanneer hul tekens van vrede en oorlog onder mekaar gee. Maar, Merula, ek vrees ons vriend Axius word maer van ongeduld, terwyl hy hierdie natuurwetenskaplike geskiedenis aanhoor, want ek het niks van profyt gesê nie, en so oorhandig ek nou die toorts aan jou.[26]
Merula bespreek nou hoeveel profyt 'n mens van bye kan, maak: twee broers, het een tyd 10,000 sestertü (£80) per jaar gemaak. Maar om dit te doen, moet jy weet hoe om die bykorwe te maak en waar om hul te plaas - ver van geraas en sodat hul op die opgaande, son in die winter kyk, en omring deur plante waar die bye van hou...... (59)
As jy bye koop, moet jy kyk of hul gesondheid goed is - as hul ongesond is, lyk hul harig en stofferig.
"As die swerm op die punt is om weg te trek, wat gewoonlik gebeur as hul 'n groot klomp kleintjies voorspoedig voortgebring het, en hul uittrek om as 't ware 'n kolonie te stig, soos die Sabyne voorheen dikwels gemaak het, omdat hul kinders te veel geword het, - hiervan is daar gewoonlik twee voorafgaande tekens waardeur jy kan weet wat gaan gebeur. 'n Paar dae vooraf, veral in die aand, hang hul soos druiwetrosse saam voor die ingang van die korf. Die twede teken is dat wanneer hul net op die punt is om te begin vlie en reeds begin het, hul 'n harde gegons maak, soos soldate wanneer hul laer opbreek. Die wat die eerste uittrek, vlie in gesig van die ander rond en kyk terug na die wat nog nie vergader het nie, totdat hul kom.
As die bymeester sien wat gebeur, maak hy hul bang deur stof op hul te gooi en deur met brons 'n lawaai te maak rondom, en die plek waarheen jy hul wil bring, word gesmeer met erithace en apiastrum[27] en die ander dinge waarvan hul hou. As hul gaan sit het, word 'n korf gebring met dieselfde aanlokkende stowwe van binne gesmeer. Dit word in die nabyheid geplaas, en deur middel van 'n dun rokie word die bye gedwing om binne te gaan. As die bye eenmaal die nuwe kolonie binne-getrek het, bly hul daar so goedwillig, dat selfs as jy die ou korf, waaruit hul getrek het, in die nabyheid sit, hul meer tevrede is met hul nuwe tuisplek."
Wanneer die heuning uitgehaal moet word en hoe, is die volgende onderwerp. En dan gaan hy voort om te sê dat 'n mens moet oppas dat die sterker bye nie baas speel oor die swakkeres nie, want daardeur word die opbrings minder. Gevolglik word die swakkeres (60) dikwels afgesonder en onder 'n ander koning geplaas. Bye wat dikwels onder mekaar veg, moet besprinkel word met heuningwater. Daarop hou hul nie alleen op met veg nie, maar hul stroom saam en lek mekaar af - te meer as hul met heuningwyn besprinkel word, want dan word hul deur die ruik aangetrek en pak dit gretiger aan en drink hul dronk......
As dit ooit gebeur (en dit is selde) dat hul verras word deur 'n skielike reënbui of koue, terwyl hul kos soek, en die groot druppels hul teen die grond gevel het, waar hul plat lê asof hul dood was, moet jy hul versamel in een of ander vat en hul opsy sit in 'n taamlike warm en bedekte plek. Op die volgende dag, as die weer op sy beste is, moet vyehout tot as gemaak word, en dit moet dan, as dit 'n bietjie warmer as lou is, op die bye gesprinkel word. Hul moet saggies geskommel word, vat en al, só dat jy hul nie met jou hand raak nie, en in die son geplaas word. So verwarm, word hul herstel en kom tot verhaal, net soos vlieë wat in die water verdrink het. Dit moet in die nabyheid van die korf gedoen word, sodat die bye ná herstel elkeen na sy werk en huis kan terugkeer."
Ons hoor nou van visdamme - vars en sout - van Hirrus wat £96 uit die gebou om sy dam, gemaak het, en elke pennie daarvan uitgegee het op kos vir die visse, wat eenmaal twee-duisend "murénes"[28] uit sy damme aan G. Caesar geleen het, van heilige visse wat, as daar op die fluit gespeel word, tot by die wal kom - maar niemand durf hul aanraak nie, want hul is heilig.
"Ja," sê Axius, "ons visse is net so heilig - so heilig dat g'n kok hul durf oor die kole haal nie!" (ins vocare (61) - in die geregshof roep, 'n geskil beslis met iemand; maar ius beteken ook sous!)
Hier moet ons afskeid neem van Varro. Geleerd, prakties en hard, voer hy ons deur die besonderhede van die Romeinse plaas. Vol van tiepiese humor en pittigheid, neem hy elke kans waar om die oorsprong van dinge na te speur en 'n verhaal hier en 'n verhaal daar te vertel. Sy styl en sy stof is soms droog en saai, maar daartagter voel ons tog 'n menslike element wat ons nie onbekend uit daardie sterk Romein van tagtig jaar toelag nie.
Voetnotas
edit- ↑ Teks van Goetz, Teubner, 1922.
- ↑ Sibulla - algemene naam vir 'n profetes wat deur bo-natuurlike inspirasie besiel word en so 'n openbaring van die toekoms gee. Sy word voorgestel as erg bejaard (1000 jaar sê Ovidius-) en haar legendes kom uit Asië na Griekeland, en van Griekeland na Rome. Tot diep in die Middeleeue reik haar invloed. Deur die kerk selfs word sy 'n plek gegee naas die Ou-Testamentiese profete, soos in die bekende hiemne van Thomas van Celano,
Dies irae, dies illa
Solvet saeclum in favilla
Teste David cum sibulla.
(Die dag van Toorn, daardie dag, sal die wêreld in
as ontbind - so getuig Dawid tesame met die Sibulla).
Haar figuur ontmoet ons in die kerkskilderye van Michael Angelo, omring deur profete van die Ou Testament, en in die Chigi-kapel word sy deur Rafael geskilder, omring deur engele. Die bekendste Sibulla in Italië was die van Cumae, aan die S.W.-kus. Vergilius beskryf haar grot in Aenéis VI, en ook haar profetiese besieling. Die s.g. Sibullynse boeke (wat die Romeine volgens 'n bekende verhaal in die tyd van Tarquinius Priscus in besit gekry het) is gebruik as 'n soort staatorakel en was onder die sorg van 'n priesterskap. Hul alleen het die reg gehad om die boeke te raadpleeg in tyd van nood. - ↑ Ennius (239-169 v. K.- een van die eerste eg-Romeinse digters. Skrywer van die eerste Romeinse nasionale gedig: voorloper van Vergilius.
- ↑ Ridder - oorspronklik iemand wat 'n perd kon verskaf en ry in oorlogstyd. In die tyd van Varro het dit net 'n maatskaplike stand aangedui, laer as die Senatore-klas, hoër as die plebs. (Slawe tel nie - hul is maar lewendige instrumente, soos Aristoteles gesê het!)
- ↑ 'n Mens het destyds 'n filosofiese skool aangehang net soos jy vandag lid van so-en-so 'n kerk is. Die staatsgodsdiens was formeel en seremonies, en het min met sedelikheid te doen gehad.
- ↑ Tollenaar - publicanus (vgl. "publican" in die Engelse N.T. vertaling) het die reg om belastinge in te samel van die Staat gekoop, en het toe maar al te dikwels, onder die Republiek, die belastingbetalers afgepers en verdruk.
- ↑ Aedilis- een van die ondergeskikte staatsbeamptes, ongeveer gelyk aan Hoof van Poliesie.
- ↑ Dit is tiepies van die taaie volharding wat in die Romeinse karakter gesit het. Oorspronklik slaan die woorde op die vertragingspolitiek van Fabius Maximus, waardeur hy in die 2e Puniese Oorlog eindelik vir Hannibal uitgeput het; sodat Ennius van hom kon sê: "Een man deur sy vertraging het Rome se staat herstel."
- ↑ d.i. as jy by die hek kom, kan dit nie baie lank duur voor jy die persoon sien wat jy kom besoek nie. Agrius wil maak of hy volkome tuis is, al is sy gasheer nog afwesig.
- ↑ Eratosthenes: een van die beroemde Alexandryne, hoof van die ontsaglike biblioteek te Alexandrië in die middel van die 3e eeu v. Kr. Hy is die eerste wetenskaplike aardrykskundige.
- ↑ Asia: d.i. Klein-Asië.
- ↑ Pacuvius: Romeinse tragedie-skrywer (± 220 - 130 v. Kr.)
- ↑ Culleus = 20 amphorae. 1 amphora = 6 gellings 7 pinte. Per "acre" sou dit wees 3,000 gellings of 7,000 gellings per morg. Cato noem 10 cullei per iugerum vir Gallia Cisalpina-N.O. provinsie van Italië bokant die Rubico-rivier.
- ↑ Langs die middel van die renbaan het 'n muur geloop (spina). Hierop, aan iedere end, was daar sewe eiervormige voorwerpe en sewe dolfyne. By die end van elke omloop (spatium, curriculum) word 'n eier en 'n dolfyn weggeneem, as 'n teken vir die renners. Varro sinspeel ook skertsend op die eier wat gewoonlik die Romeinse dinee begin het. "Van die eier tot die appels," sê Horatius, d.i. van die begin tot die end.
- ↑ Nonis modo diebus: die Romeine sê "elke negende dag," omdat hul inklusief reken, d.i. hul tel die eerste en die laaste dag van 'n tydperk by. So het hul vir "eergister" gesê "dit is nou die derde dag" (nudius tertius = nunc est dies tertius).
- ↑ "Gumnasium" in die oorspronklike sin van skool of toegeruste terrein vir liggaamsoefening.
- ↑ Lucretius het 'n taamlik volledige samevatting van party van die hooftrekke in die Darwinistiese ewolusieleer gegee in die eerste eeu v. Kr. Sien De Rerum Natura V. 1928, en ook Horatius, Satieres I. 3.99.
- ↑ 'n Baie ou geloof, ook deur Vergilius in Georg. iv gebruik. Vgl. die raaisel van Simson, Rigt. 14. Bouzuges was, volgens die Ateense tradiesie, die eerste, om die os onder die juk te bring: volgens die legende van Argos, was dit Homoguros.
- ↑ Die teks is verward. Hirrius is onbekend; maar dit word dikwels in Livius as 'n wonderteken genoem dat 'n os gepraat het. Vgl. Bileam se esel. Numeri 22:28. Die praetor is die twede hoogste van die normale siviele beamptes.
- ↑ Deut. 25:4. 1 Kor. 9:9. 1 Tim. 5:18.
- ↑ Die meeste mense dink dat die gesegde: "God made the country, man made the town," modern is. Maar hier staan dit in Varro.
- ↑ Lees tuebantur (Victorius .
- ↑ Eerste legendariese koning van Italië (volgens die miete) wat in die Goue Eeu geregeer het, toe daar nog reg en geregtigheid op die aardbodem was. Daarna het gekom die eeue van Silwer en Yster, en nog altyd word die mensdom slegter.
- ↑ 'n Feit deur die moderne wiskunde gestaaf.
- ↑ Die algemene idee in die Oudheid. Die geslag van die koningin is eers deur die Hollandse natuurkundige Swammerdam (1637-1680) definitief ontdek, ofskoon die term koningin-by al in Xenophon voorkom.
- ↑ Figuur ontleen aan die toorts-wedren, (lampadedromia) waarby een atleet met die toorts hardloop en dit aan 'n ander oorhandig. "Soos lopers op die baan oorhandig hul die lewenstoorts" sê Lucretius, en vgl. die bekende gedig van Newbolt: Vitai Lampada. Vergelyk met hierdie hele bespreking oor bye Georgica iv van Vergilius.
- ↑ Erithace - stof waarmee die bye hul selle saamlym. Apiastrum welriekende plant waarvan die bye hou.
- ↑ Murena 'n aalagtige vis, besonder deur die Romeine gelief. Die rykes, wat besonder daarop uit was om 'n goeie tafel aan te hou, het dit in hul private damme (piscinae) aangeteel.