Die Wonderpatroontjie/'n Verdaagde konsert

Onder egte lords vervalle Die Wonderpatroontjie
'n Verdaagde konsert.
deur Tonnie
Die Patroontjie teruggekry


'n Verdaagde konsert.

Ons het die hele Frankryk van hoek tot kant deurkruis, maar nergens 'n teken van die patroontjie gekry nie. Verder het ons maar allerhande mooi dinge bekyk en geld gladnie gespaar nie.

Maar geld is 'n ding wat naderhand opraak en so het dit met Danie se erfporsie ook gegaan. Voor ons weet hoe ons dit het, was ons boomskraap en moes ons die motorkar verkoop. Nie te lank nie was die motorkar se geld ook op.

« Wat nou aangevang ? » vra Danie een aand, toe ons nog net 'n paar honderd frank oor het.

« Ek het 'n plan », sê ek. « Jy hou konserte. »

« Is jy dan nou verspot, Tonnie? Ek ken mos g'n Frans nie! »

« Dit weet hulle mos nie! »

« Hulle sal dit gou genoeg weet as ek voor hulle optree. »

« Nou maar jy gaan mos ook nie optree nie. »

« Hoe dan ? »

« Ek sal jou wys. »

Daarop gaan ek die saal bespreek (ek moet eers sê dit was toe 'n ou klein dorpie, waar ons telande gekom het, sodat daar maar een saal was - ook nie eintlik 'n saal nie, somar 'n soort skuur) en ek laat 'n klomp biljette druk en in die dorp versprei. Wat ek alles aangekondig het onthou ek nou self nie meer nie, maar dit was dan te wonderlik, die dinge wat hulle alles die aand sou hoor en sien van twee Italiaanse kunstenaars!

Baie gou was die ou dorpie dan ook in rep en roer en die aand het oud en jonk, klein en groot, siek en gesond na die konsert toe gekom. Danie het by die venstertjie gesit en geld ontvang en ek het by die deur die kaartjies middeldeur geskeur.

Toe die saal mooi propvol was, sodat daar nie meer een staanplek was nie, het ons die deur toegesluit, om nou kastig buite om te loop en dan van agter af op die verhoog te kom. Wie sê so ? Ons was net die hoekie om, toe laat nael ons met die sakkie vol geld.

Ek wou eers die sleutel weggooi, maar Danie wou dit nie toelaat nie. Net so'n endjie uit die dorp uit het ons in 'n sandslootjie geslaap. Gelukkig was dit somer, sodat die primitiewe losiesgeleentheid darem nie vir ons te ongerieflik geval het nie.

Voor dagbreek is ons weer verder. Langs die pad kry ons 'n boer, wat dorp-toe ry. Ek keer kom voor en gee hom die sleutel: « Og, meneer, sal u ons tog nie 'n vriendskappie doen nie, asseblief? Op die dorp, in die skuur, het ons 'n klomp slagbeeste opgesluit en glad vergeet om die sleutel af te gee. Ons kom vanaand laat eers weer in die dorp en dan is die stomme diere seker dood van die honger en dors. Sal u dan nie asseblief die skuur gaan oopsluit nie en iemand huur om hulle vir ons op te pas tot vanaand? Hiet is twintig frank. Dankie, meneer, baie dankie, u sal ons 'n groot diens bewys. »

Die ou boer het dit onderneem en ry toe verder. Die volgende dag het ons in 'n koerant gelees hoe die klomp konsertgangers hom half verskeur het, toe hy die skuur oopsluit. Hulle hou daarop, dis hy wat hulle opgesluit het.