Die Wonderpatroontjie/Die Patroontjie teruggekry
←'n Verdaagde konsert | Die Wonderpatroontjie Die Patroontjie teruggekry. deur Tonnie |
Die Patroontjie teruggekry.
Daarna het ons toe maar weer in al die ou dorpies van Frankryk rondgedool en al die mense, wat ons teenkom, maar aandagtig gadegeslaan, om te sien of hulle nie dalk met die vermiste patroontjie pronk nie.
Op 'n goeie dag staan ons weer in 'n ou klein dorpie op die mark, waar hulle 'n man se huisraad verkoop. Ek staan nog so aandagtig en luister na die bieëry, toe ek voete hoor klap. Ek kyk om en sien Danie hardloop agter 'n ander kêrel. Nie hoe ver nie haal hy hom in. Die vent wou hom nog teësit, maar een, twee, drie het Danie hom teen die grond, met sy voet op sy bors en, so maklik of dit 'n handvol vere is, pluk hy die kêrel se horlosieketting met 'n stuk van sy onderbaadjie af. Dit was Danie se ketting met die wonderpatroontjie !
Ongelukkig is die boek nou vol, maar in 'n volgende bundel word die eintlike awonture verhaal, wat ons met die patroontjie gehad het.
. . . . . . . . . . . . . . . . . . . . . .
Ek wil net weer waarsku teen 'n neiging wat daar by die lesers bestaan om my verhale te letterlik op te neem. So vertel hulle byvoorbeeld van 'n hewige vuisgeveg wat daar tussen twee persone van verskillende politieke oortuigings plaasgevind het ergens in Waterberg. Dit was oor die skets van my omtrent 'n sekere Afrikaanse staatsman, vir wie die Iere half wou verskeur, sodat hulle hom naderhand in 'n kas moes toespyker, die woord « kunsmis » daarop verwe en hom op 'n trollie na sy hotel toe vervoer.
Een van die persone het gesê dis 'n verbrande leuen, maar die ander hou vol, dat dit reine waarheid moet wees, want hy het dit self in die koerant gelees. Die uiteinde was 'n geveg en amper 'n hofsaak ook.
So wil ek sê, die voorgaande verhaal is maar net offisieel, dis nie die waarheid nie. En as die leser altemit vir ons sekere van die awonture wil nadoen, dan moet hy dit hier in Europa kom doen en nie in Suid-Afrika nie. Byvoorbeeld om vrugte te koop en 'n ander daarvoor te laat betaal ; 'n konsert te adverteer en dit nie te hou nie ; of jou vir edelman uit te gee, dit sal in Suid-Afrika nie gaan nie.
Die leser kan darem daar in die strate probeer viool en draaiorrel speel en sing. Maar dit sal nie betaal nie, want die mense is in Suid-Afrika nog nie so deur die kuns gemartel soos in Europa, dat hulle jou sal betaal om te gaan sing voor die deure van die mense met wie hulle kwaaivriende is nie.
Lyk die verhaal altemit bietjie kinderagtig, dan moet die leser onthou, dat dit 'n sprokie is en eintlik vir kinders geskryf is. Grootmense hoef dus nie verder te lees nie.