Die Wonderpatroontjie/Hoe ons op krediet koop

Na Parys toe getoor Die Wonderpatroontjie
Hoe ons op krediet koop.
deur Tonnie
Ons tree op


Hoe ons op krediet koop.

Nou ja, sover was ons nou. Die diefstal was aangegee en ons was elkeen voorsien van 'n ou pak flenterklere.

« Wat nou verder gemaak ? » vra ek. « Waarvan gaan ons leef, totdat die poliesie ons besittings en die patroontjie terugkry? »

« Hoeveel geld het jy nog ? » vra Danie.

« Sewen-en-veertig Franse franke, skaars ons onderhoud vir een dag ».

Meteens sien ek 'n ou blinde Jood, wat met 'n ou draaiorrel staan en raas en aan wie die mense elke maal iets gee, dat hy moet wegloop en voor 'n ander huis gaan raas. Ek somar dadelik na die ou toe en ek koop sy draaiorrel vir dertig frank.

Nie te ver nie kry ons weer 'n doof-stomme, wat op 'n ou eensnaar-viool staan en saag en ek presenteer hom die orige sewentien frank aan voor sy skreeu-tuig. Maar om die dood of hy die ding onder die twintig frank wou afstaan. So het ek hom toe die eerste drie frank beloof, wat ons sou verdien en hom solank my beursie in pand gegee.

Nou ja, nou het ons twee musiek-instrumente. Ek stel voor, dat ons somar dadelik moes begin verdien. Maar Danie wou nie daarvan hoor, dat ons helderoordag op straat spektakels van ons moes maak nie ; want, sê hy, daar is te veel bekende Afrikaners in Europa op reis, wat dalk op ons kon afkom en dan gaan ons naam daarmee heen.

« Nou ja », sê ek, « maar waarvan gaan ons leef tot vanaand? Steel wil ek nie en ons is te gesond om te bedel. »

« Ja, jy's volkome reg », sê hy, « ek voel ook al net skraal van die honger. Maar ons moet maar bietjie uithou. Buitendien kan ons mos nie nou al vir ons vir musikante gaan uitgee nie : ons moet tog eers leer om die instrumente te bespeel. »

« Is jy nou verspot, Danie ? » berispe ek hom. « Watter kuns is daar nou aan om die ou flentergoed te bespeel ? Watter bobbejaan kannie op 'n draaiorrel speel nie ? Ek stry nie, ek is nie te danig musikaal nie, maar ek soek darem my moses om 'n draaiorrel en 'n gramafoon te regeer. »

« En wat van die viool ? » troef hy my kastig.

« Laat jy maar die viool aan my oor », troos ek hom. « Jy vat die draaiorrel en dan sing jy « Afrikaners landgenote », « Ou Sarie Marais », « My oupa se perd » en ander Afrikaanse liedjies. Ek sal dan so heel saggies op die viool so'n soort « swygende melodie » staan en afkielie. Buitendien gaan ons mos nie juis klassieke musiek lewer nie. Ek weet self nie wat klassieke musiek is nie, maar dit gaan ons in elk geval nie lewer nie. Ons raas mos maar net, sodat die mense ons kan betaal om voor hulle bure se deur te gaan raas. »

« Ja, maar tog », pruttel hy, « ons moet wag tot vanaand. »

« Nou, maar wat salons eet tot vanaand ? » vra ek.

« Dit weet ek nie », is enigste trooswoord, wat hy hom verwerdig om uit te bring. »

« Weet jy wat », sê ek naderhand, « kom ons gaan na die mark toe, dalk kry ons daar 'n jop om vir mense vrugte en groente huis-toe te dra. »

« Jy is volkome reg », stem hy in.

Ons het toe ons musiek-instrumente in 'n ou koffiehuis gegee om dit vir ons te bêre en ons sit af mark-toe. Maar daar was niemand wat ons wou huur nie. Nadat ons 'n half-uur daar rondgestaan het, sê ek vir Danie: « Maat, jy's nou my getuie, dat ons eerlik van plan was om iets te verdien en dat ons nie 'n verdienste kan kry nie. As ek nou oneerlik is, kan ek dit nie help nie. Kom ! »

Hy wil my nog eers vermaan, maar ek was al by die afdakkie, waar 'n vrou vrugte en allerhande gebak verkoop.

Nadat ek by 'n ander ou afdakkie stilletjies 'n mandjie geleen het, begin ek koek, brood, botter, appels, piesangs en ander lekkernye koop en in die mandjie pak. Toe die mandjie vol is, staan ek in die rigting van 'n motorkar en kyk, waar twee deftige mans in drukke gesprek staan.

« Nou, maar wat staan ons oom dan so en snater, dat hy nie kom nie ? Ek sien al hoe ongeduldig is tante weer vanmore, omdat hy so lank wegbly. Jy weet self dat sy gesê het hy moet dadelik kom, dat sy kan brekfis gereed maak. (Tot die vrou) Madam, sal u ons nie toelaat om maar die mandjie na die motor te neem nie, dan salons myoom stuur om te kom betaal? Of nee wag, ek sal hom gaan roep en as u sien, dat hy wys hy sal kom betaal, dan kan my neef mos seker maar die mandjie bring, nie waar nie ? »

« O ja, seker », sê die vrou.

Ek na die twee oues toe en ek spreek die een aan, wat ek uit die motorkar sien klim en toevallig hoor Engels praat het: « Meneer, daardie vrou het 'n yslike mandjie vol koek en vrugte gepak en soek 'n medelydende met 'n motorkar om dit vir 'n arme ou siek man weg te bring. Sy vra of u dit nie asseblief sal wegbring nie ? »

« Ja, dis goed », sê die ou in Engels.

« Nou, meneer, wys maar net vir haar, dat dit in orde is, dat my maat die mandjie kan bring, want ons is bietjie haastig om nog ander mense se groente weg te bring. »

Hierop maak hy 'n buiging in die rigting van die afdakkie en beduie vir die vrou, dat sy maar die mandjie kan stuur.

« Ja, meneer, maar maak nou vir haar duidelik, dat u na haar toe sal kom om die adres te kry van die huis waar li die mandjie moet afgee. »

Hy ook nie weer links nie, hy maak 'n paar gebare, om te kenne te gee, dat hy nou die adres sal kom haal - wat die stomme vrou natuurlik vertaal: « Ja, laat die mandjie maar kom, ek sal nou kom betaal. »

« Watter is u motorkar, meneer, dan kan ons solank die mandjie daarop sit? »

Hy wys na sy motorkar en ek gaan reguit daarheen en Danie peil ook somar reguit op die motorkar af met die mandjie.

« Garçon », sê ek vir die drywer, « jou meneer sê jy moet eers gou vir ons twee wegbring. » (Garçon is eintlik die naam vir 'n « wyter », maar ons noem somar enige bediende « garçon », die letterlike betekenis is eintlik «seun», of soos ons sal sê « Japie » - of « Moena », as dit 'n kaffer is.)

Hy wil my eers opstry en te kenne gee, dat ek nie die waarheid praat nie.

« Klipsteen! » sê ek vir hom in Engels, « het jy dan nie self gesien, dat jou meneer vir ons gewys het, dat ons hierdie motorkar moet vat om die mandjie vrugte vir die burgemeester weg te bring nie? »

« Hy wou nog teëpraat, maar ek gaan dadelik na die man toe, wat nog ál die tyd staan en konversaas hou.

« Meneer », kla ek my nood by hom, « daardie ellendige garçon sê dit is nie meneer se motorkar nie. Word bietjie driftig en beduie vir hom, dat hy ons moet toelaat om die mandjie op die motor te laai. Ek en my maat is nydig haastig om nog ons ander werkies ook te doen. »

A nee en die ou laat hom dit ook nie twee keer sê nie: « Gou jy doen wat die menere jou versoek! » gebied hy die drywer.

'n Mens is tog 'n sondige ding. Toe hy nou teen die garçon met sy blink knope en sy uniform te kenne gee, dat ons twee, met ons flenterklere (soos die leser' n paar bladsye verder sal sien), « menere » is («gentlemen ») asseblief, want hy het Engels gepraat) het ek net my werk gehad om nie lag te kry nie. Dit het vir my amper geklink soos toe die sekretaris van 'n vereniging in Holland aan Danie skryf: « Den WelEdelgeboren Heer ». Maar ek hou my maar taai en sê so ongeërg as ek dit maar enigsins kon regkry :

« Meneer, gaan u dan nie vir ons 'n ou ietsie gee nie? U kan tog nie verwag, dat die arme ou vrou die mandjie vol allerhande goed vir liefdadigheid moet gee en dan nog die « tips » ook boonop nie.

Daarop gee hy my toe 5 frank en sit af na die afdakkie toe, want die ou vrou staan toe ook al net 'n skuimbek van ongeduld, dat hy moet kom betaal. Soos jy sê sikspens was ek by die motorkar en ek en Danie wip by die mandjie in en beveel die garçon om te laat nael na die burgemeester se huis toe.

« Ek weet nie waar hy woon nie », wil hy nog teëpraat, maar ek was hom al dadelik voor met: « Toe maar, ek sal vir jou wys. »

Die man was nog nie behoorlik by die afdakkie nie, toe hy die motorkar hoor druis. Ek wens die leser kon sy verbasing en verontwaardiging sien en ook die vrou s'n, toe hy, instede van te betaal, soos 'n besetene tekere gaan en sy vuis wys vir die twee flenterkantore, wat met sy motorkar durf wegry.

Vlakvoor die hekkie van 'n park laat ons ons toe aflaai en sê die garçon kan nou maar sy baas gaan haal, ons sal nou maar die eindjie die mandjie dra. A nee en kan hy dan nie ook alweer klaar sit vir 'n tip nie! Ek het my net niks getraak nie, toe hy sy bek so dik maak soos 'n duiwelsbrood, omdat ek, instede van geld, vir hom tip met twee appels, 'n ou melktertjie en 'n ou skildpadbroodjie.

Toe hy wegry, maak ons eers of ons verder aanstap, maar sit toe die mandjie neer om kastig mooi vas te vervat, maar eintlik om twee oomblikke later by die hekkie van die park in

te glip, waar ons ewe juts op 'n bankie gaan sit en eet het of die hele Parys se eethuise op ons rekening gedryf word.

Toe ons genoeg geëet het, het ons die mandjie onder 'n digte boom weggesteek, om die volgende dag nader kennis te kom maak met hom. Maar toe ons die volgende dag daar kom, was daar nie 'n teken van die mandjie te sien nie. Natuurlik hongerige rondlopers, wat die lui is om te werk, het hom waarskynlik daar gesien en kafgeloop.