Die Wonderpatroontjie/Ons tree op

Hoe ons op krediet koop Die Wonderpatroontjie
Ons tree op.
deur Tonnie
'n Franse wraakmiddel



Ons tree op.

Die aand was dit ook nog nie behoorlik donker nie, of ons neem posiesie in voor 'n deftige woning. Danie begin te maal aan die ou draaiorrel en hef « Afrikaners Landgenote » aan en ek saag somar hier in die wind op die ou stuk viool.

Afrikaanse kunstenaars in Parys.

'n Paar stompieoptellers het by ons verbygeloop en niksbeduidende ou muntstukkies in Danie se hoed gegooi (inhalige blikskottels!) Ons het seker al 'n goeie halfuur daar gestaan, toe het ons nog maar skaars 5 frank verdien. En nie dat ons musiek nie die moeite werd was nie ! Ek wens die leser kon dit gehoor het, veral die vokale gedeelte daarvan (ek sal maar sê Danie se sing). Dit was eers net bloot « Afrikaners landgenote ». maar toe sê ek naderhand vir hom :

« Nee, kêrel, dit sal nooit gaan nie. Jy moet so nou en dan 'n paar mondevol Frans tussenin gooi, byvoorbeeld soiets: « Afrikaners landgenote, merci bien, s'il vous plait ». »

« Wat beteken dit? » vra hy.

« My wêreld, Danie, weet jy dit nie ? Dit beteken « baie dankie, asseblief ». »

Hiermee was hy tevrede en hy het toe ook maar verder net pal die een reëltjie gesing. Dit het toe maar kompleet gegaan soos die hotnot-riele, wat almal net een versie net, wat 'n paar honderd maal oorgesing word. Maar tog was daardie een reël nie van musikale waarde ontbloot nie.

Daardie « mêr-sie » het my hart gesteel. Dit het met my gegaan soos met die ou vrou, wat so aandagtig na die preek geluister het, dat die predikant na afloop van die diens eintlik vir haar bydam om te verneem hoeveel stigting sy uit die preek gehaal het.

« So, ou moeder, en u het nou eintlik die preek net danig geniet? Ek het gemerk hoe u gesig gedurig van 'n salige tevredenheid gestraal het. Dit is darem 'n voorreg, wanneer 'n mens jou nog só kan verlustig in die Blye Boodskap. »

Maar die dominee het anders daaroor geoordeel, toe die ou tante beken: « Ja, meneer, dat ek dit geniet het, kan u gerus sê, want dink, meneer kan tog vir my die woord « Meesoopootaamiejee » so mooi sê. »

Was dit al die leser se ondervinding ook, dat die een of ander woord in 'n preek of toespraak u besonder gestig het? Miskien sal dit u byval, as ek my ondervinding van so'n geval hier meedeel.

Dit was die dae op Sandfontein. Daar was 'n plaasskool, maar ek was nog te klein om skool te gaan, dan gaan ek maar bedags langs die skool, vlakvoor die venster, sit en speel met my dol-osse. Ek het naderhand al ál die ou versies en goed, wat hulle daar leer, net so pront geken soos die skoolkinders self. Party van die dinge was naderhand al bepaald 'n nagmerrie. As ek in die nag wakker word, of net waar ek gaan of staan, het ek altyd die volgende ou versie half hardop gesê:

« Wan, toe, bukker maai sjoe,
Stree, fohr, nokket de dohr.
Faaif, sieks, piekkup stieks,
Sewwen, yt, ly dem stryt. »

Maar wat ek nou wou sê wat my so besonder gestig het, is daardie lettertjie « dubbeljoe » in die Engelse a, b, c. Ook nie die lettertjie op sigself nie, maar die manier waarop Willem Swiers en sy suster Gesie dit uitgespreek het (stomme mense, hulle is vandag ook albei al getroud). Ja, ek sit eintlik en wens, dat hulle moet 'n fout maak, sodat hulle vir hulle straf weer van voor af moet begin. Partykeer maak hulle 'n hele paar foute voor « dubbeljoe » dan is ek weer teleurgestel, omdat dit hulle so lank neem om by die mooi woord te kom.

Nou ja, dieselfde uitwerking het Danie se « mer-sie » op my gehad. Dis waar, ek bly eintlik somar staan soos 'n vark wat die weer hoor dreun, wanneer hy by « mer-sie » kom. Want dan kan hy mos die « mer » so geweldig lank rek, dat dit my laat dink aan vanmelewe, toe ek en Edward en Warie en Jan Hakkelaar in oom John Dahon se brakslote loop en blêr om die weggooi-lammertjies te soek.