Oom Gert vertel en ander gedigte/Opdrag

Inhoudsopgawe Oom Gert vertel en ander gedigte
Opdrag
deur C. Louis Leipoldt
Voorrede


OPDRAG

edit
"Aan almal, wat voorgegaan het".

Die son gaan onder in die weste, agter
       Die grysvaal koppies van ons ou Karoo;
Die hele lug is rooi, en goud, en silwer,
       Met elke wolk half-wit as sneeu daarbo;
En saggies oor die veld hier val die skemer.
       Die laaste glans en jongste gloed verdwyn
Van elke berg, waar nog so kort die kranse
       Geverf was deur die son met karmosyn.
Oor al ons land daar trek die nag 'n skadu,
       Groen as die blare van 'n sederboom.
Die hamerkop verlaat die vlei; die reier
       Stap na sy nes om op een been te droom;
Die naguil vlieg, en vlieënd klop sy vlerke;
       In die tabaktuin gons die duiwelby;
En die aandblommetjies is algar ope
       Om wierook oor die vlakte te versprei.
Waar in die weste, as 'n muur van purper,
       Die bergrant teen die lug 'n skadu bou,
Daar stadig klim die volmaan na die sterre
       En haal die hele wêreld weer uit rou.
Sag is die nag en slaaprig al die wêreld—
       Sag as die wit gesiggie van 'n kind.
Dof in die maanlig skitter net die sterre,
       En rustig in 'n klipskeur skuil die wind.
Slaap rustig so, jul almal, wat geworstel,
       Slaap so, jul algar, wat gesneuwel het!
Hoe hard ook was die dag, die nag gee slaaptyd:
       Na stryd kom slaap—dis die natuur se wet!
Kan julle op ons neerskou as die sterre,
       Kind, vrou, en man, wat in ons tyd van nood
Die bitter kelk gesluk het en gevinde
       'n Rus vir ewig in 'n heldedood,
Neem dan, wat ek (die nooit geen kans gehad het
       Die laaste stap te doen uit liefdeplig)
As brokkies vir 'n eerbewys gebou het—
       'n Nietig reeks van rympies—my gedig.
Ja, nietig, want geen sterretjie kan dowwer,
       In vergelyking met jul voorbeeld, blink—
En tog, miskien, dis moontlik, dis 'n weerklank,
       Van wat vir altyd in ons harte klink!

Die maanlig gooi 'n silwerwaas oor velde,
       Waar eens die grys kruitwolke het gerol;
En elke plaas, wat vroeër van rook geruik het,
       Is met die geure van aandklossies vol.
Maar selfs die silwerlig kan nie verberge
       Die tekens van die tyd tien jaar verby:
Maak net jou oë toe, en tussen wierook
       Bespeur jy nog die kruitrook op die vlei!
Ja, man, wat op die slagveld het gesneuwel,
       En in die kinderkampe, kind en vrou,
Slaap rustig stil, julle, wat so geworstel,
       En so gesterwe het—want ons onthou!