Oom Gert vertel en ander gedigte/Voorrede
←Opdrag | Oom Gert vertel en ander gedigte Voorrede deur C. Louis Leipoldt |
Inleiding→ |
Voorrede
edit
As 'n mens 'n Voorrede skrywe, dan het hy die reg om van homself te praat. Ek wil egter van die reg afsien, want van myself is daar niks te vertel nie. Slegs dit: hoe ek daartoe gekom 't om die bundel rympies te laat druk. En miskien is dit nodig, dat ek die leser 'n verklaring van sulke astrantheid gee.
Vir jare het ek my vermaak met versies draai en met die loop van tyd het ek 'n hele boel van die rympies in my tafellaai opgegaar. Dit was, en is, 'n onnosel vermaak, waarmee ek net maar myself gekwel 't, deurdat ek somtyds nie 'n rym in die hande kon kry nie, en nog meer kere nie goed in woorde kon uitdruk, wat ek gevoel en ondervind 't. Toe het ek terloops eenmaal met my vrind Smith oor ons taal gepraat, en hom ook een en ander van my versies gewys. Hy was vrindelik genoeg om te sê, dat dit hom geïnteresseer het; en later het hy my wysgemaak, dat dit ook miskien andere van ons mense kon interesseer. Hy het sommige van die rympies uitgekies—dié wat in die volgende bladsye staan—en het my gehelp om dit vir die pers klaar te maak.
Die leser sien dus, dat die boekie in 'n seker sin soveel sy, as my kind is, en dat hy 'n deel van die lof, as daar lof is, of van die blaam, as daar blaam is, moet dra.
Vir die gevoelens, wat in die gediggies geuiter word, is ek alleen verantwoordelik. Ek weet natuurlik nie, of die gevoelens byval sal vind nie by ons mense, wat nog gediggies lees; en ek vra ook geen ekskuus daarvoor, al is daar hier en daar 'n reël of 'n woord wat ek nou, as ek weer die rympies moes oorskrywe, nie sou behou nie.
Die meeste van die gediggies is gemaak geword, toe ek nog half flou was met die skok van die oorlog, en toe die donder van die Engelse kanonne nog altyd in my ore was. Miskien het dit my snare al te veel laat tril. Miskien is dit beter, dat ons nie meer oor sulke goed praat of sing nie. Maar daar is ook 'n ander kant: en dit kan wees, dat daar onder my lesers is, wat nie maklik vergeet nie, hoe gou hul ook vergewe. Ek laat dus maar die versies, soos ek hul geskrywe het, in die hoop, dat die leser hul met 'n bietjie geduld en lankmoedigheid sal lees, en nie 'n al te strawwe oordeel sal vel oor
Die Skrywer.
Londen, Oktober 1911.
- By die tweede druk:
Die spelling is in ooreenstemming gebring met die voorskrifte van die Suidafrikaanse Akademie; en hier en daar is 'n woord verander, of die punktuasie verbeter. Vir die orige is die gediggies nog, soos ek hul oorspronklik geskrywe het.
C.L.L.
Pretoria, Mei 1917.