Wet op basiese diensvoorwaardes 75 van 1997/Hoofstuk een

please do not remove empty parameters (see the template documentation).
Wet op basiese diensvoorwaardes 75 van 1997 by Regering van Suid-Afrika

Hoofstuk een: Woordomskrywing, doel en toepassing van hierdie wet

HOOFSTUK EEN
WOORDOMSKRYWING, DOEL EN TOEPASSING VAN HIERDIE WET (aa 1-5)

 

1 Woordomskrywing

 

In hierdie Wet, tensy uit die samehang anders blyk, beteken-

 

"Arbeidsappèlhof" die Arbeidsappèlhof by artikel 167 van die Wet op Arbeidsverhoudinge, 1995, ingestel;

 

"Arbeidshof" die Arbeidshof by artikel 151 van die Wet op Arbeidsverhoudinge, 1995, ingestel;

 

"arbeidsinspekteur" 'n arbeidsinspekteur kragtens artikel 63 aangestel, en ook, enige persoon wat kragtens daardie artikel deur die Minister aangewys is om enige werksaamheid van 'n arbeidsinspekteur te verrig;

 

"basiese diensvoorwaarde" 'n bepaling van hierdie Wet of 'n sektorale vasstelling wat 'n minimum beding of voorwaarde van diens stel;

 

"bedingingsraad" 'n bedingingsraad ingevolge die Wet op Arbeidsverhoudinge, 1995, geregistreer en, met betrekking tot die staatsdiens, ook die bedingingsrade in artikel 35 van daardie Wet bedoel;

 

"besoldiging" enige betaling in kontant of in goedere of in beide kontant en goedere, gedoen of verskuldig aan iemand in ruil waarvoor daardie persoon vir 'n ander persoon werk, met inbegrip van die Staat, en het "besoldig" 'n ooreenstemmende betekenis;<a href="#_edn1" name="_ednref1" title="">[i]</a>*

 

"beteken" om per aangetekende pos, telegram, teleks, telefaksimilee te stuur of per hand te lewer;

 

"Departement" die Departement van Arbeid;

 

"dienswet" ook hierdie Wet, enige ander Wet waarvan die administrasie aan die Minister opgedra is, en enige van die volgende Wette:

 

(a) Die Werkloosheidversekeringswet, 1966 (Wet 30 van 1966);

 

(b) die Skills Development Act, 1998 (Wet 97 van 1998);

 

(c) die Employment Equity Act, 1998 (Wet 55 van 1998);

 

(d) die Wet op Beroepsgesondheid en Veiligheid, 1993 (Wet 85 van 1993);

 

(e) die Wet op Vergoeding vir Beroepsbeserings en -siektes, 1993 (Wet 130 van 1993);

 

[Omskrywing van "dienswet" vervang by a. 1 van Wet 11 van 2002.]

 

"Direkteur-generaal" die Direkteur-generaal van Arbeid;

 

"gebied" ook 'n aantal gebiede, hetsy aangrensend al dan nie;

 

"geregistreerde vakbond" 'n vakbond wat kragtens artikel 96 van die Wet op Arbeidsverhoudinge, 1995, geregistreer is;

 

"geregistreerde werkgewersorganisasie" 'n werkgewersorganisasie wat kragtens artikel 96 van die Wet op Arbeidsverhoudinge, 1995, geregistreer is;

 

"geskil" ook 'n beweerde geskil;

 

"gewone werkure" die werkure ingevolge artikel 9 of ingevolge 'n ooreenkoms ingevolge artikel 11 of 12 toegelaat;

 

"goeie praktykkode" 'n goeie praktykkode deur die Minister ingevolge artikel 87 van hierdie Wet uitgereik;

 

"Grondwet" die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996 (Wet 108 van 1996);

 

"hierdie Wet" ook die Bylaes en enige regulasies kragtens hierdie Wet uitgevaardig, maar nie ook die opskrifte of voetnotas nie;

 

"huiswerker" 'n werknemer wat huiswerk verrig in die huis van sy of haar werkgewer, en ook-

 

(a) 'n tuinwerker;

 

(b) 'n persoon wat as bestuurder van 'n motorvoertuig by 'n huishouding in diens is; en

 

(c) 'n persoon wat kinders, bejaardes, siekes, verswaktes of gestremdes versorg,

 

maar nie ook 'n plaaswerker nie;

 

"kind" iemand wat onder die ouderdom van 18 jaar is;

 

"kollektiewe ooreenkoms" 'n skriftelike ooreenkoms oor bedinge en voorwaardes van diens of enige ander aangeleentheid van onderlinge belang aangegaan deur een of meer geregistreerde vakbonde, aan die een kant, en aan die ander kant-

 

(a) een of meer werkgewers;

 

(b) een of meer geregistreerde werkgewersorganisasies; of

 

(c) een of meer werkgewers en een of meer geregistreerde werkgewersorganisasies;

 

"Kommissie" die Kommissie vir Diensvoorwaardes by artikel 59 (1) ingestel;

 

"KVBA" die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie ingevolge artikel 112 van die Wet op Arbeidsverhoudinge, 1995, ingestel;

 

"loon" die bedrag geld aan 'n werknemer betaal of betaalbaar ten opsigte van gewone werkure of, indien dit korter is, die ure wat 'n werknemer gewoonlik op 'n dag of in 'n week werk;

 

"mediese praktisyn" 'n persoon wat daarop geregtig is om ingevolge artikel 17 van die Wet op Geneeshere, Tandartse en Aanvullende Gesondheidsdiensberoepe, 1974 (Wet 56 van 1974), as 'n mediese praktisyn te praktiseer;

 

"maand" ' n kalendermaand;

 

"Minister" die Minister van Arbeid;

 

"nakomingsbevel" 'n nakomingsbevel deur 'n arbeidsinspekteur ingevolge artikel 69 (1) uitgereik;

 

"NEOAR" die Nasionale Ekonomiese, Ontwikkelings- en Arbeidsraad ingestel by artikel 2 van die Wet op die Nasionale Ekonomiese, Ontwikkelings- en Arbeidsraad, 1994 (Wet 35 van 1994);

 

"openbare vakansiedag" enige dag wat 'n openbare vakansiedag is ingevolge die Wet op Openbare Vakansiedae, 1994 (Wet 36 van 1994);

 

"ooreenkoms" ook 'n kollektiewe ooreenkoms;

 

"oortyd" die tyd wat 'n werknemer gedurende 'n dag of 'n week werk wat die gewone werkure oorskry;

 

"plaaswerker" 'n werknemer wat hoofsaaklik in of in verband met boerderybedrywighede in diens is, en ook 'n werknemer wat uitsluitlik of hoofsaaklik huiswerk in 'n huis op 'n plaas verrig;

 

"raad" ook 'n bedingingsraad en 'n statutêre raad;

 

"sektor" 'n nywerheid of 'n diens of 'n deel van 'n nywerheid of 'n diens;

 

"sektorale vasstelling" 'n sektorale vasstelling kragtens Hoofstuk Agt gedoen;

 

"seniorbestuurswerknemer" 'n werknemer wat die gesag het om werknemers te huur, te dissiplineer en te ontslaan, en om die werkgewer intern en ekstern te verteenwoordig;

 

"staatsdiens" die staatsdiens bedoel in artikel 1 (1) van die Staatsdienswet, 1994 (Proklamasie 103 van 1994), en ook enige organisasiekomponent beoog in artikel 7 (4) van daardie Wet en vermeld in die eerste kolom van Bylae 2 by daardie Wet, maar uitgesonderd-

 

(a) die lede van die Nasionale Weermag;

 

(b) die Nasionale Intelligensie-agentskap;

 

(c) die Suid-Afrikaanse Geheimediens;

 

(d) die Suid-Afrikaanse Nasionale Akademie van Intelligensie;

 

(e) Comsec.

 

[Par. (e) bygevoeg as par. (d) by a. 40 (1) van Wet 65 van 2002 en by a. 26 van Wet 68 van 2002 en bygevoeg as par. (e) deur a. 25 (2) van Wet 52 van 2003.]

 

"statutêre raad" 'n raad ingestel kragtens Deel E van Hoofstuk III van die Wet op Arbeidsverhoudinge, 1995;

 

"tydelike werkverskaffingsdiens" enige persoon wat, teen beloning, vir 'n kliënt ander persone verkry of verskaf-

 

(a) wat dienste lewer aan of werk verrig vir die kliënt; en

 

(b) wat deur die tydelike werkverskaffingsdiens besoldig word;

 

"vakbond" 'n vereniging van werknemers waarvan die hoofdoel is om verhoudinge tussen werknemers en werkgewers, met inbegrip van enige werkgewersorganisasies, te reël;

 

"vakbondbeampte" ook 'n beampte van 'n federasie van vakbonde;

 

"vakbondverteenwoordiger" 'n verteenwoordiger van 'n vakbond wat daarop geregtig is om die regte beoog in artikel 14 van die Wet op Arbeidsverhoudinge, 1995, uit te oefen;

 

"voorskryf" by regulasie voorskryf, en het "voorgeskryf" en "voorgeskrewe" 'n ooreenstemmende betekenis;

 

"vroedvrou" 'n persoon wat ingevolge artikel 16 van die Wet op Verpleging, 1978, (Wet 50 van 1978), geregistreer en ingeskryf is om as 'n vroedvrou te praktiseer;

 

"week", met betrekking tot 'n werknemer, die tydperk van sewe dae waarin die werkweek van daardie werknemer gewoonlik val;

 

"werkgewersorganisasie" enige aantal werkgewers wat met mekaar geassosieer is met die doel, hetsy op sigself of met ander doeleindes, om verhoudinge tussen werkgewers en werknemers of vakbonde te reël;

 

"werknemer"-

 

(a) iemand, uitgesonderd 'n onafhanklike kontrakteur, wat vir iemand anders of vir die Staat werk en wat besoldiging ontvang of daarop geregtig is om besoldiging te ontvang; en

 

(b) iemand anders wat op enige wyse help om die besigheid van 'n werkgewer voort te sit of te bedryf,

 

en het "in diens" en "diens" 'n ooreenstemmende betekenis;<a href="#_edn2" name="_ednref2" title="">[ii]</a>*

 

"werkplek" enige plek waar werknemers werk;

 

"werkplekforum", 'n werkplekforum kragtens Hoofstuk V van die Wet op Arbeidsverhoudinge, 1995, ingestel.

 

"Wet op Arbeidsverhoudinge, 1995" die Wet op Arbeidsverhoudinge, 1995 (Wet 66 van 1995);

 

2 Doel van hierdie Wet

 

Die doel van hierdie Wet is om ekonomiese ontwikkeling en maatskaplike geregtigheid te bevorder deur die primêre oogmerke van hierdie Wet te bereik, naamlik-

 

(a) om uitvoering te gee aan die reg op billike arbeidspraktyke wat by artikel 23 (1) van die Grondwet verleen is en daardie reg te reël-

 

(i) deur basiese diensvoorwaardes in te stel en af te dwing;

 

(ii) deur die verandering van basiese diensvoorwaardes te reël;

 

(b) om uitvoering te gee aan die verpligtinge wat deur die Republiek as lidland van die Internasionale Arbeidsorganisasie opgeloop is.

 

3 Toepassing van hierdie Wet

 

(1) Hierdie Wet is van toepassing op alle werknemers en werkgewers, behalwe-

 

(a) lede van die Nasionale Weermag, die Nasionale Intelligensie-agentskap en die Suid-Afrikaanse Geheimediens en die Suid-Afrikaanse Nasionale Akakemie van Intelligensie;

 

[Par. (a) vervang by a. 40 (1) van Wet 65 van 2002.]

 

(b) onbesoldigde vrywillige werkers wat vir 'n organisasie werk wat 'n liefdadigheidsdoel dien;

 

(c) die direkteure en personeel van Comsec.

 

[Par. (c) bygevoeg by a. 26 van Wet 68 van 2002 en by a. 25 (2) van Wet 52 van 2003.]

 

(2) Hierdie Wet is van toepassing op persone wat beroepsopleiding ondergaan, behalwe in soverre enige beding of voorwaarde van hulle diens deur die bepalings van 'n ander wet gereël word.

 

(3) Hierdie Wet, behalwe artikel 41, is nie van toepassing nie op persone in diens op skepe ter see ten opsigte van wie die Handelskeepvaartwet, 1951 (Wet 57 van 1951), van toepassing is, behalwe in soverre daar in 'n sektorale vasstelling daarvoor voorsiening gemaak word.

 

4 Insluiting van bepalings in dienskontrakte

 

'n Basiese diensvoorwaarde maak 'n beding van enige dienskontrak uit, behalwe in soverre-

 

(a) 'n ander wet 'n beding bepaal wat vir die werknemer gunstiger is;

 

(b) die basiese diensvoorwaarde vervang, verander of uitgesluit is ooreenkomstig die bepalings van hierdie Wet; of

 

(c) 'n beding van die dienskontrak vir die werknemer gunstiger is as die basiese diensvoorwaarde.

 

5 Hierdie Wet nie deur ooreenkomste geraak nie

 

Hierdie Wet of enigiets daarkragtens gedoen, het voorrang bo enige ooreenkoms, ongeag of dit voor of na die inwerkingtreding van hierdie Wet aangegaan is.