Afrikaner-Volkseenheid/Vroeëre Mislukte Pogings

Wat Is Afrikaner-Volkseenheid? Afrikaner-Volkseenheid
Vroeëre Mislukte Pogings
deur D. F. Malan
Vol Uitgeleefde Eie Nasieskap


Sedert Unie is daar twee groot geskiedkundige pogings aange-

wend om die algemeen begeerde volkseenheid tot stand te
bring. Die eerste was deur generaals Botha en Smuts met hul
sogenaamde ,,Konsiliasie-politiek". Dit was voor en ná die
Hertzog-krisis. Die tweede was deur generaals Smuts en
Hertzog in 1933 met die gepoogde ,,vereniging" van hul
onderskeie en tevore mekaar opponerende partye. Albei
pogings het misluk. Maar nog erger. Dit het net die teenoor-
gestelde bereik van wat ek aanneem in alle opregtheid deur
hulle bedoel was. Die resultaat in beide gevalle was groter en
ernstiger verdeeldheid as ooit tevore. In die lig van wat ek nou
net probeer het om uiteen te sit, is die oorsake hiervan, vir my
altans, duidelik.
Generaals Botha en Smuts wou die laaste spore van die
Anglo-Boere-oorlog so gou as moontlik uitgewis sien. Groten-
deels was hul beroep om eenheid en samewerking emosioneel
van aard. Die verlede moes vergeet en vergewe word. As dit
al was, en as die tyd daarvoor behoorlik gegun was, sou dit
mettertyd goeie gevolge gehad het. Ongelukkig is daar egter
vir die begeerde volkseenheid geen behoorlike en gesonde
beginselgrondslag neergelê nie. Genl. Botha het inteendeel by
geleentheid die skokkende verklaring gedoen, wat nie maklik
vergeet sal word nie, dat die beginsels van die party wat hy en
genl. Smuts gelei het, moes wees soos ronde klippertjies wat nie
so maklik raak gevat kan word nie. En as dit maar al was! Die
konsiliasie was eensydig, en na die verkeerde kant toe, dit wil

sê nie na die kant van die veronregte en oorwonnene toe nie,
maar na die kant toe van die oorwinnaar in die bittere maar
ongelukkig ook verwoestende vryheidstryd. Die ergste het
egter nog daarop gevolg. Slegs twaalf jaar daarna, toe alles
nog vars in die geheue was - die swerwende kommando's, die
afgebrande plaaswonings, die vlugtende vroue en kinders, die
konsentrasiekampe, ens. - was Engeland self gedompel in 'n
oorlog teen die magtige Duitsland. In plaas van toe aan die
Boerevolk die nodige tyd te gee vir die vervaging van sy
bittere herinnerings en vir die genesing van sy wonde, het die
Botha-Smuts-regering die ongehoorde en mees onmenskundige
ding gedoen. Onder die leuse van ,,eer en plig" het hulle
Suid-Afrika opgeroep om met goed en bloed Engeland in sy
oorlog, waarmee Suid-Afrika self niks te doen gehad het nie,
te help. In verband met die toe beslote verowering van die
Duitse gebied aan ons grense het hulle, ten spyte van ernstige
proteste, selfs dwang uitgeoefen, met die gevolg dat op die
,,gewapende protes" en botsings met regeringstroepe daar
openlike rebellie gevolg het. Onbeskryflik was toe die tragedie
toe die sterke manne wat tevore drie en 'n halwe jaar skouer
aan skouer met die geweer in die hand gestaan het in hul
stryd vir vryheid en vir reg, nou bereid was om mekaar se
bloed te vergiet, en nogal met gewese Boeregeneraals as aan-
voerders aan beide kante. Die skeuring was gevolglik diep en
oënskynlik onheelbaar.
Die ander mislukte poging, hoewel nie bloedig nie, het in
'n ander sin tog ook ewe tragies verloop. Dit het gevolg op die
besluit van generaals Smuts en Hertzog om hul onderskeie
partye, wat langer as twintig jaar mekaar beveg het, in één
politieke party saam te smelt. Hul verskille was altyd beskou
as fundamenteel, en tereg ook, en daarom onoorbrugbaar. Dit
het gegeld wat ek hier tevore beskryf het as die onmisbare
grondslag vir volkseenheid, naamlik die opbou van 'n vol uit-
geleefde eie nasieskap in 'n eie en enigste vaderland. Op hierdie

grondslag het genl. Hertzog self en sy Nasionaliste sedert sy
gevleuelde en weerklinkende verklaring van 1912 by De Wildt
van ,,Suid-Afrika Eerste" altyd voortgebou. In sy kern het
dit niks minder beteken nie as soewereine onafhanklikheid,
met ander woorde die opeising van Suid-Afrika se reg om
ongebonde deur enige ander land of lande oor sy eie lot te
beskik. In ieder geval was dit die konstitusionele posisie sedert
die Imperiale Konferensie van 1926, toe die dominiums as
lede van 'n vrye assosiasie van die Statebondslede volkome
gelykheid met mekaar en volle selfbestuur verkry het in hul
buitelandse sowel as in hul binnelandse betrekkinge. Hier-
teenoor het genl. Smuts altyd volgehou dat Suid-Afrika daar-
die selfbeskikkingsreg nie besit nie, dat hy met ander woorde
'n onderhorige land is, en in sy eie belang dit ook behoort te
bly. Hierdie verskil tussen die twee leiers was radikaal, en
duideliker nog het dit geblyk toe genl. Hertzog aan die een
kant verklaar het dat Suid-Afrika die reg besit van afskeiding
van die Britse Ryk, en van neutraliteit in enige oorlog, en
dat die Kroon deelbaar is, en toe genl. Smuts aan die ander
kant hierdie standpunt met beslistheid verwerp het. Hierdie
verskil was klaarblyklik diepgaande, omdat dit 'n kwessie was
van ons vryheid en nasionale toekoms, en geen gesonde party-
eenheid daarom kon bestaan sonder dat daar op hierdie punt
eenstemmigheid bestaan het nie. Ten spyte hiervan het die
samesmelting egter plaasgevind op grondslag nogal van 'n
openlike en gesamentlike verklaring van die twee hoofleiers
dat ,,op hierdie punte ons in die verlede verskil het, ons nog
só van mekaar verskil, en in die toekoms ook nog só sal bly
verskil, maar dat ons desnieteenstaande tog een party sal
vorm’’.
Die samesmelting het dus doelbewus op 'n gekraakte fonda-
ment berus. Die eenheid was 'n ooreenkoms om fundamenteel
van mekaar te verskil. Maar ergste van al was nog dit: Daar
is by implikasie ontrou gepleeg teenoor ons eie en volle Suid-

Afrikaanse nasieskap. Dit kon geen nugter denkende Nasionalis
onderskryf nie. En die uiteinde daarvan moes dan ook misluk-
king wees, gevolg deur groter verdeeldheid as ooit tevore. Die
prys vir daardie soort van volkseenheid het genl. Hertzog in
1939 betaal. En die prys was duur.